On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Jagersfontein-damramp: Vyf gelas om in hof te verskyn

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:09 Wed, 27 Aug 2025

Jagersfontein-damramp: Vyf gelas om in hof te verskyn | News Article
Inwoners van Charlesville het motors, meubels, huise, geliefdes verloor. Foto: Brown Motsau en David van Wyk

Die DA verwelkom die dagvaarding van die vyf Vrystaters om in die hof te verskyn in verband met die damwal-ineenstorting drie jaar gelede.

Die vyf mans, tussen 34 en 80 jaar oud, is gedagvaar om op 10 September in die Jagersfontein-landdroshof te verskyn. Dit hou verband met die tragedie toe die wal van ’n slikdam by die diamantverwerkingsaanleg in Jagersfontein meegegee het, sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder.

In die voorval op 11 September 2022 het drie mense hul lewe verloor, een word steeds vermis en ongeveer 186 inwoners van die nedersettings Charlesville en Itumeleng het hul woonplek verloor.

Slegs die fondamente het oorgebly van hierdie Charlesville-huise voor in die foto. Foto: Brown Motsau en David van Wyk

Luidens ’n verslag van Bench-Marks Foundation het ’n boer in Vlakfontein 90% van sy skape as gevolg van die ramp verloor.

“Die Jagersfontein-slykdamramp het geweldige skade aan eiendom veroorsaak en tot die verlies van lewens gelei. Ons verwelkom die dagvaardings wat uitgereik is aan individue wat nou aanspreeklik gehou moet word vir hierdie verwoestende gebeurtenis,” sê dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier.

“Mense is lank vooraf gewaarsku dit was ’n potensiële risiko en daardie waarskuwings is verontagsaam.”

LEES OOK: Jagersfontein-ramp – ’n terugblik

Mohobeleli sê ná ’n intensiewe strafregtelike ondersoek deur die Valke en die departement van bosbou, visserye en die omgewing, het die NVG gelas dat die verdagtes vervolg word.

Die verdagtes – onder wie werknemers van ’n ingenieursfirma, ’n voldoeningsbeampte en ’n bedryfsbestuurder – word aangekla van onder meer moord, opsetlike saakbeskadiging en oortreding van die Wet op Gesondheid en Veiligheid.

Brig. Xolani Matroos, waarnemende Vrystaatse Valke-hoof, bedank almal wat by die ondersoek betrokke was vir hul toewyding en harde werk.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.