On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Jagersfontein-ramp – ’n terugblik

───   ELSABÉ RICHARD 15:00 Thu, 21 Sep 2023

Jagersfontein-ramp – ’n terugblik | News Article
Foto verskaf

“Daar is twee produsente wat direk geraak is. Die eerste een is Pieto Louw en die tweede een Dennis Louw. Tussen hulle het hulle omtrent ‘n 1 000 hektaar veld wat nou onder hierdie slik lê.”

Dit was op 11 September 2022 dat inwoners se lewe in 'n oogwink verander het toe 'n myndamwal in Jagersfontein bars. Huise, diere en die grond is met slik bedek – wat 'n grys prentjie in kleur en in gemoed geskep het.

Jagersfontein was deur die maande die dorp op menigte se tong, met politieke partye wat onder meer wou weet hoekom die herbou van huise solank neem.

'n Boer in die omgewing het tussen 50 en 100 van sy tweelingooie verloor.

Boere het baie van hul vee verloor. Foto verskaf.

“Daar is twee produsente wat direk geraak is. Die eerste een is Pieto Louw en die tweede een  Dennis Louw. Tussen hulle het hulle omtrent ‘n 1 000 hektaar veld wat nou onder hierdie slik lê,” sê Albertus van Schalkwyk van die Jagersfontein Boerevereniging.

Ander gemeenskapsboere het onder meer voorrade soos voer en dieremedisyne verloor.

Talle mense het hul huise en motors verloor toe 'n slikstroom alles in sy pad verwoes het. Twee mense is dood verklaar terwyl Mantele Mokhali steeds vermis is.

Die slikstroom het alles in sy pad verwoes. Foto verskaf 

Ondersteuning en toesigbesoeke 

Die Vrystaatse Departement van Landbou het sover 1000 x 25 kg lusernbale aan 43 meentboere, 815 x 25 kg lusernbale aan een kommersiële boer en 640 x 50 kg sakke korrels aan drie vroueboere geskenk.

Tydens 'n toesigbesoek deur adjunkpresident Paul Mashatile aan Jagersfontein het die provinsiale regering daartoe verbind om slagoffers van die ramp by te staan. Dit, nadat die gebeurtenis as 'n provinsiale ramp ingevolge art. 23 (1)(b) van die Rampbestuurwet (Wet No: 57 van 2002) verklaar is.

Slik-bedekte veld in Jagersfontein. Foto: Lucky Nkuyane

LUR Saki Mokoena het steun van R4 miljoen aan geaffekteerde boere belowe. Die landbou-ondersteuning sluit voer in soos lusernbale en sakke korrels.

Hy het ook  in sy begrotingsrede in April aangekondig dat hy R6 miljoen geherprioritiseer het om onder meer 56 boere op 27 plase in Jagersfontein te ondersteun. 

Menseregtekommissie

ActionSA in die Vrystaat het op  19 September 2023 'n versoek gerig aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie waarin hy 'n opdatering wil hê van die klagte wat op 29 September 2022 ingedien is. 

Die politieke party versoek ook die kommissie om 'n dringende ondersoek van stapel te stuur na die menseregteskendings deur die Departement van Minerale Bronne en Energie, die Jagersfontein Development (PTY) Ltd en Kopanong-munisipaliteit.

"Tot op hede word Charlesville-inwoners gelos om besoedelde lug in te asem en besoedelde water te gebruik. Die munisipaliteit het jojo-tenks na gebiede gestuur wat dikwels sonder water is.

"365 dae later het meer as 103 mense steeds nie huise nie, met geen alternatiewe verblyf nie. Talle regeringsleiers het die dorp besoek, die jongste was adjunkpresident, Paul Mashatile. Hulle besoeke het niks gedoen om die bou van beskadigde huise te bespoedig nie," sê die party.

Huise word gebou in Jagersfontein. Foto: Lucky Nkuyane 

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.