Central SA
Piet Bester-moordsaak vir voorverhoor in Bloemfontein uitgestel─── ZENANDE MPAME 10:25 Tue, 09 Sep 2025

Die twee beskuldigdes wat van die moord op ’n voormalige Bloemfonteinse landdros aangekla word, sal Woensdag (17/9) vir ’n voorverhoor in die hooggeregshof in Bloemfontein verskyn.
Jan Dael (52) het Woensdag (3/9) vir die eerste keer in die hooggeregshof vir ’n voorlopige verhoor verskyn. Die saak is uitgestel omdat sy medebeskuldigde Letiscia Adams (42) afwesig was.
Dael en Adams het meer as 17 jaar op die vermoorde Piet Bester se plaas gewoon en gewerk. Bester was nie net ’n voormalige landdros nie, maar ook ’n voormalige stut vir die Vrystaat-Cheetahs en Griekwas.
Die twee beskuldigdes is sedert hul inhegtenisneming in Januarie in aanhouding. Hulle is op 11 Januarie aangekeer – dieselfde dag wat Bester se liggaam met veelvuldige steek- en kapwonde op sy plaas aangetref is.
Adams is borgtog geweier, terwyl Dael sy aansoek laat vaar het nadat sy woonadres nie bevestig kon word nie.
“Die saak vir die voorverhoor is geskeduleer om op 17 September in die hooggeregshof in Bloemfontein te begin,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder in die Vrystaat. Hulle word van moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling aangekla.
Dael en Adams het volgens die klagstaat Bester by sy huis besoek. ’n Rusie tussen Dael en Bester het ontstaan en Dael het glo ’n graaf en tuinvurk gaan haal en Bester verskeie kere daarmee geslaan.
Dael het Bester na bewering bewusteloos langs die motorhuis gelaat. Toe hulle die volgende dag terugkeer, was sy liggaam steeds daar. Hulle het die toneel skoongemaak voordat hulle hulp gaan soek het.
By die polisiekantoor is Bester se bankkaart in Adams se besit gevind. Een van Bester se selfone is steeds weg, asook die kontant wat in sy beursie was.
Dael het glo aan die polisie beken dat hy Bester met die tuingereedskap aangerand het.
Die klag van regsverydeling spruit daaruit dat hulle versuim het om die polisie in te lig dat Bester oorlede is. Hy kon selfs twee nagte langs die motorhuis gelê het, aangesien sy liggaam reeds ontbind was toe dit gevind is. Die vermeende moordwapens is ook van die misdaadtoneel verwyder en na ’n pakhuis geneem.