Central SA
Bloemfonteinse ouers: ‘Met outisme is alles groot oorwinings’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:21 Wed, 10 Sep 2025

“Al die klein oorwinnings is die grootste oorwinnings.”
Vir Beané en Ryno Steenkamp van Bloemfontein dra daardie woorde ’n betekenis wat slegs ’n reis deur outisme werklik kan verduidelik.
Wat die meeste gesinne as gewone mylpale sou oorsien – ’n woord wat gepraat word, ’n speelding wat opgetel word, of ’n eenvoudige instruksie wat gevolg word – het buitengewone oorwinnings in die Steenkamp-huishouding geword.
Hul dogter, Arianke Steenkamp (7), is ’n spontane, borrelende kind wat daarvan hou om te dans, te sing en vir haar teddiebeertjies op te tree, sê haar ma, Beané. Sy floreer in die kollig, praat eindeloos en het ’n wonderlike sin vir humor.
Arianke Steenkamp van Bloemfontein. Foto verskaf
Beané en Ryno het van jongs af opgemerk dat hul dogter nie soos ander kinders ontwikkel nie. “As baba het sy oogkontak vermy, nie woorde herhaal nie en verkies om die wiele van speelgoedmotors te draai in plaas daarvan om daarmee te jaag.”
Verjaardagpartytjies het haar oorweldig en teen 13 maande het haar ouers geweet iets was anders. Hoewel vriende en familie hul bekommernis as niks afgemaak het en gesê dat sy sou inhaal, het haar ouers hul instink vertrou.
Ryno sê hulle het Arianke op tweejarige ouderdom na Elmanda Fourie ’n arbeidsterapeut in Upington geneem.
“Binne ’n halfuur het Elmanda vir ons gesê sy mag en kan nie ’n diagnose maak nie, maar sy weet dis outisme en dat ons ’n pediater in Bloemfontein moet gaan sien vir ’n formele diagnose sodat ons met die pad vorentoe kan begin.”
Arianke Steenkamp is ’n borrelende kind. Foto verskaf
’n Vroeë diagnose is belangrik en hoe vinniger ouers die regte terapie en medikasie kry hoe beter is die ontwikkeling.
'n Jaar later het ’n pediater in Bloemfontein die diagnose bevestig.
“Hoewel dit gevoel het of die gewig van die wêreld op jou skouers val – binne sekondes – word jy oorstroom met vrae: Hoe sal haar toekoms lyk? Sal sy ooit ’n werk hê? Sal sy onafhanklik wees? Sal sy geboelie word?"
Hulle het in hierdie stadium in Upington gebly waar skole en enige hulp vir kinders met spesiale behoeftes skaars was.
“Mense was maar oningelig oor outisme en ek en my man het uitgereik na ander ouers wat in dieselfde bootjie as ons is, het opgelees oor verskillende opsies en opinies aangaande outisme.”
‘Gevrees dat sy nooit sou praat’
Arianke het hulle geleer van liefde sonder voorwaardes, geduld as dit moeilik raak en vreugde in die kleinste prestasies.
Haar ouers het aanvanklik gevrees dat sy nooit sou praat nie. Maar op vier het sy haar eerste woorde gesê en stadig haar vermoë om te kommunikeer ontsluit.
Vandag floreer Arianke
Sy gaan na ’n spesiale skool in Bloemfontein, blink uit in wiskunde, praat aanhoudend en pas makliker by nuwe omgewings aan,” sê haar ma.
Die gesin het groot opofferings gemaak om hierdie punt te bereik soos om hul tuisdorp te verlaat, hul huis te verkoop en oor te begin in Bloemfontein waar beter ondersteuning en skole beskikbaar was.
“Sy het die mooiste siel en hart, soveel sorg vir ander. Soms wens ek almal kon die lewe ervaar soos sy dit ervaar. Aan die begin het dit gevoel asof ons alles verloor het, maar nou besef ek – ons het alles gekry, en soveel meer.”
‘Sy is baie eerlik’
Arianke is baie eerlik en soms beledig haar botheid ander. Haar ouers lei haar sagkens om haar woorde te herformuleer, terwyl hulle ook diegene rondom haar opvoed.
Ryno vertel hulle weier om Arianke in watte toe te draai en is vasbeslote om haar so onafhanklik as moontlik groot te maak.
Een van die grootste wanopvattings is dat outistiese kinders nie emosie het nie. “Dis die teenoorgestelde. Arianke voel alles so diep. Sy huil wanneer ander huil. Sy merk pyn op, sy troos, sy gee om. Sy het meer empatie as die meeste mense,” sê Beané
Onkunde, oordeel en selfs wreedheid
Haar gedrag word dikwels met stoutigheid verwar en hulle word van swak ouerskap beskuldig. “Ander het ongewenste advies gegee, met die aanname dat een persoon met outisme alles verteenwoordig.” Met verloop van tyd het die ouers geleer om sulke kommentaar te laat vaar.
“My skoonouers was onwrikbare bondgenote, en Arianke se skool, Blaze Academy h/a The Sanctuary, het uitstekende leiding gebied. Tog was die eerste vyf jaar eensaam, gevul met onsekerheid en vrees."
Helder prentjie
“Arianke is gelukkig. En met elke glimlag, elke woord, elke tree vorentoe, word haar ouers daaraan herinner dat outisme nie gaan oor wat verlore gaan nie – maar oor wat gewen word.
Hulle is unieke siele met soveel liefde om te gee. Niemand hoef jammer vir ons te voel nie. Ons het niks verloor nie. Ons het alles gewen.”
Hierdie artikel is een in ’n reeks oor ouerskap.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg