Central SA
Pleidooi dat ‘Kill the Boer’ op NWU-kampusse verbied word─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:44 Fri, 12 Sep 2025

Duisende studente en jongmense vra die omstrede dreunsang van “Kill the Boer” op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampusse moet verbied word.
AfriForum Jeug en studente van die NWU se Potchefstroom-kampus het Donderdag (11/9) ’n protesoptrede gehou. Hulle het hul frustrasie uitgespreek oor die universiteit se stilswye en skynbare onwilligheid om die sing daarvan op sy kampusse duidelik en in die openbaar te veroordeel.
“Die petisie is aan die universiteitsbestuur oorhandig met meer as 6 000 handtekeninge ter ondersteuning van ’n verbod op die sing hiervan op NWU-kampusse,” sê Yvonne Gerber, beampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug.
Die petisie is gerig aan dr. Corrie Rheeder, direkteur van studentelewe op die NWU se Potchefstroom-kampus.
Lede van AfriForum Jeug en NWU-studente het ook hul steun getoon deur ’n banier te onderteken wat lui: “Veroordeel ‘Kill the Boer’.”
Die studente op die kampus by die banier. Foto verskaf
“Vandag se protesoptrede en eis vir veroordeling van die dreunsang volg op ’n voorval op 5 Junie vanjaar, toe oproeriges na bewering ‘Kill the Boer’ buite universiteitskoshuise op die NWU-Potchefstroom se Wes-kampus gesing het.
“Op 6 Junie het AfriForum Jeug ’n amptelike brief aan die universiteit se visekanselier, prof. Bismark Tyobeka, ingedien waarin hy versoek word om op te tree en die dreunsang in die openbaar te veroordeel.”
‘Slegs een algemene verklaring uitgereik’
Die universiteit het egter tot dusver slegs een algemene verklaring uitgereik, op 6 Junie, waarin hy noem hy is “bewus van die voorval wat na bewering dreunsang behels het”.
“Die NWU “beskou die oortreding of skending van menseregte, beleide en reëls in ’n ernstige lig en veroordeel enige optrede of gedrag waarmee probeer word om die NWU se waardes te ondermyn, ten sterkste”.
Dit is teleurstellend dat die universiteit versuim het om die “Kill the Boer”-dreunsang spesifiek te noem en geen duidelike dissiplinêre stappe teen die betrokke studente gedoen het nie, sê Gerber. Die universiteit het ook nie direk op AfriForum Jeug se formele versoek om veroordeling gereageer nie.
LEES OOK: NWU-bestuur se stilswye oor ‘Kill the Boer’ verontrustend – AfriForum Jeug
“Die universiteit se gerieflike stilswye oor die saak is ontnugterend. Om die dreunsang nie spesifiek en effektief te veroordeel nie, beteken dat ’n slagspreuk wat openlik die moord op ’n segment van die bevolking oproep, bloot aanvaar word. ’n Duidelike en ferm standpunt van die universiteitsleierskap is noodsaaklik.”
Volgens onbevestigde berigte was diegene wat betrokke was, slegs tydelik geskors vir wat amptelik as “lawaaierige gedrag” beskryf is tydens die universiteit se toetstydperk.
Die uitkoms van die universiteit se beloofde ondersoek, asook die onderneming dat die voorval “ferm en in ooreenstemming met die toepaslike reëls en regulasies” hanteer sou word, is nog nie gekommunikeer nie.
“Boonop het AfriForum Jeug geen amptelike terugvoering ontvang nie, al het hy hom van meet af as ’n besorgde jeugorganisasie in hierdie saak geposisioneer.
‘Kill the Boer’ is glo voor ’n koshuis op die Potchefstroomkampus gesing. Foto: Afriforum
“AfriForum Jeug se boodskap is duidelik: Die NWU kan nie agter vae stellings wegkruip nie. Hierdie dreunsang blaas vrees aan, bevorder verdeeldheid en stel die veiligheid van studente in gevaar. Alle studente verdien ’n kampus waar hul menswaardigheid beskerm word en rassespanning nie geduld word nie,” sê Gerber.
AfriForum Jeug het die NWU-administrasie weereens versoek om beslissende stappe te doen. Die organisasie eis dat die universiteit:
- Die sing van “Kill the Boer” duidelik en in die openbaar veroordeel.
- Bevestig dat dreungsang soos dié ’n skending van die studentegedragskode is.
- Gepaste dissiplinêre stappe teen die betrokke studente doen.
“Die universiteit het ’n morele verpligting om duidelik en ferm aan te toon dat haatspraak geen plek op ’n akademiese kampus het nie. Stilswye of dubbelsinnigheid oor hierdie kwessie is niks minder as medepligtigheid nie.”