On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Upington: Straatnaam verander ondanks groot teenkanting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:51 Fri, 12 Sep 2025

Upington: Straatnaam verander ondanks groot teenkanting | News Article
Die straatnaam wat in Upington verander is. Foto: AfriForum

Schröderstraat in Upington word voortaan Alfred Qayiso Gubelastraat genoem. Die besluit, deurgevoer deur die ANC-beheerde Dawid Kruiper-munisipaliteit, het verontwaardiging onder inwoners en opposisieraadslede ontlok.

Die omstrede straatnaamverandering word deurgevoer in weerwil van die uitkoms van ’n proses van  openbaredeelname waar die voorstel oorweldigend verwerp is.

Hennie Roux, VF Plus-raadslid, sê volgens die ANC was die verandering gegrond op aanbevelings van die munisipale adviesraad (MAC). Hoe hierdie gevolgtrekking bereik is, is egter onduidelik. 

“Die amptelike stemresultate van die openbaredeelname vertel ’n ander storie. Terwyl 1 317 deelnemers die verandering ondersteun het, het ’n oorweldigende 7 055 dit teengestaan.”

Volgens Roux is hierdie stap niks meer is as ’n politieke foefie deur die ANC om prestige te herwin voor volgende jaar se plaaslike verkiesings nie. “Dit is duidelik dat die ANC hom nie steur aan die voorgeskrewe prosesse of die gemeenskap se bydrae of mening nie.”

LEES OOK: Planne onder skoot om Upington-straatnaam te verander

Hy sê inwoners sukkel steeds met voortdurende diensleweringsmislukkings, insluitend rioolprobleme wat dikwels weke lank onbehandeld bly. In Klippunt en Kalksloot is gemeenskappe glo vir ses opeenvolgende dae sonder water.

Die VF Plus eis dat die munisipaliteit die naamsverandering onmiddellik staak omdat die besluit nie die gemeenskap se goedkeuring geniet nie en demokratiese deelname ondermyn.

Intussen sukkel die Noord-Kaap steeds met die ernstige wanbestuur van stortingsterreine. AfriForum se jongste oudit toon slegs 8% van die provinsie se geouditeerde terreine voldoen selfs aan die mees basiese vereistes, terwyl die algehele voldoening slegs 13% is, die swakste in die land, sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

“Skokkend genoeg het tien terreine 0% behaal, wat ’n gevaarlike patroon van verwaarlosing uitlig. AfriForum waarsku dat hierdie swak bestuurde stortingsterreine lug-, grond- en grondwaterbesoedeling aanwakker, wat ’n ernstige omgewingsbedreiging vir hierdie reeds waterskaars streek inhou.”

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.