Central SA
DA dien klag in oor naamsverandering op Upington─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:31 Sat, 13 Sep 2025

Al het inwoners ’n petisie teen die naamsverandering op Upington onderteken, het die proses voortgegaan. Schröderstraat heet nou Alfred Qayiso Gubelastraat.
Die besluit is deur die ANC-beheerde Dawid Kruiper-munisipaliteit deurgevoer en inwoners en opposisieraadslede is omgekrap. Henk Opperman, DA-sweep in munisipaliteit, sê die DA sal voortgaan om die besluit te beveg wat Woensdag tydens ’n raadsvergadering goedgekeur is.
“Die DA het Donderdag (11/9) ’n klag van bedrog teen David Kazi, burgemeester, aanhangig gemaak ná sy erkenning dat die petisie teen die naamsverandering ingedien is.
“Die DA het 7 055 handtekeninge teen die naamsverandering ingesamel, maar die gemeenskap se stemme is geïgnoreer."
Petisie het nooit voor advieskomitee verskyn
Hy wys daarop dat die ANC se petisie ten gunste van die naamsverandering slegs 1 317 handtekeninge bevat het, maar dit is steeds voor die raad ter tafel gelê.
“Die petisie is Woensdag (9/10) ingedien in plaas van verlede week en dit het nooit voor die advieskomitee verskyn nie. Dit is alles strydig met die regulasies.”
Hennie Roux, VF Plus-raadslid, sê die ANC beweer die verandering is gegrond op aanbevelings van die munisipale adviesraad, maar dit is onduidelik hoe hulle tot die gevolgtrekking gekom het.
LEES OOK: Upington: Straatnaam verander ondanks groot teenkanting
Verdere ondersoek na die ANC se petisie het glo bedrieglike elemente aan die lig gebring.
“Dit bevat byvoorbeeld die naam van ’n oorlede persoon wat aan die DA bekend is. Dit bevat ook gemanipuleerde data wat van DA-vorms geneem is, aangebied a ssogenaamde handtekeninge ten gunste van die naamsverandering.”
Hy sê dat dit al hoe duideliker word dat die besluit polities gemotiveerd is.
“Die DA is kwaad dat die Dawid Kruiper-munisipaliteit die gemeenskap se gevoelens verontagsaam. Hierdie naamsverandering vee ’n positiewe stukkie geskiedenis uit en die implementering daarvan sal ook veroorsaak dat inwoners finansiële verliese ly.”
Opperman bevraagteken waarom die munisipaliteit nie ’n volledige koste-ontleding van die naamsverandering verskaf het of behoorlike voorbereidingswerk gedoen het nie.
ANC gee nie om vir voorgeskrewe prosesse
“Die DA sal voortgaan om hierdie besluit te beveg. Ons sal ons petisie by die Noord-Kaapse povinsiale wetgewer se petisiekomitee indien en ’n klag by die Noord-Kaapse provinsiale geografiese namekomitee indien, terwyl ons ook verdere regstappe oorweeg.”
Volgens Roux is die stap niks meer as ’n politieke plan deur die ANC om prestige te herwin voor volgende jaar se plaaslike verkiesings nie.
“Dit is duidelik dat die ANC nie omgee vir voorgeskrewe prosesse of die gemeenskap se insette of menings nie.”
Inwoners sukkel steeds net rioolprobleme wat weke lank voortduur. In Klippunt en Kalksloot is gemeenskappe na bewering vir ses agtereenvolgende dae sonder water.
OFM Nuus dg