Central SA
Bedrog-en-geldwassery-saak in Kimberley uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:30 Wed, 17 Sep 2025

Vier mense en drie maatskappye wat van bedrog, diefstal en geldwassery beskuldig word, sal weer op 17 Oktober in die hof verskyn.
Die beskuldigdes, Christians, Banton Sithebe (40), Portia Louw (46) en Irene Botlhoko (60), het Woensdag (16/9) voor die Kimberley-landdroshof verskyn, sê Valke-woordvoerder Tebogo Thebe. Hulle is elk borgtog van R10 000 toegestaan.
Volgens Thebe spruit die aanklagte uit ’n voorval in Junie 2018 waarin die Noord-Kaapse provinsiale jeugkamer van koophandel en nywerheid die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme genader het vir finansiële bystand.
Foto ter illustrasie: iStock
“Daar was glo ’n versoek om ’n konferensie aan te bied wat daarop gemik was om jong entrepreneurs in die provinsie te ontwikkel, waarna die departement R1,8 miljoen toegeken het.”
LEES OOK: Mynregte-bedrog: Twee se saak oorgeplaas na Kimberley
Hy sê daar word beweer dat diensverskaffers geïdentifiseer en betaal is vir dienste wat nooit gelewer is nie. “Daar word geglo dat Exilite Travel Agency as die betaalmeester opgetree het en fondse aan twee ander maatskappye versprei het, naamlik B&E Suppliers CC en MTM Motseme Pty Ltd.”
Ondersoek duur voort
Thebe sê die ondersoekspan vir ernstige kommersiële misdaad het die beskuldigdes in hegtenis geneem vir hul beweerde rolle in die skema, en die ondersoeke is steeds aan die gang.
“Die ondersoek duur voort en verdere inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie.”
OFM Nuus mvh