On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaap: Erfenisdag op Upington gevier

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:55 Tue, 23 Sep 2025

Noord-Kaap: Erfenisdag op Upington gevier | News Article
Dr. Zamani Saul. Foto: Facebook

Die Noord-Kaapse premier sal Woensdag (24/9) Upington besoek, waar hy saam met die gemeenskap Erfenisdag sal gedenk.

Die dag is toegespits op die viering van die Noord-Kaap se ryk kulturele verskeidenheid en die besinning oor die ontwikkelende rol van erfenisinstellings in die moderne samelewing. Dr. Zamani Saul sal die provinsie se Erfenisdagvieringe by die Robert Gunda-stadion in Paballelo van 08:00 tot 15:00 lei.

Die geleentheid, met die tema “Herverbeel ons erfenisinstellings vir ’n nuwe era”, beloof ’n lewendige program, wat die provinsie se gedeelde geskiedenis, tradisies en identiteite tentoonstel, sê Naledi Gaosekwe, woordvoerder van die premier.

Lugfoto van Upington. Foto: southafrica.co.za 

Saul sal vergesel word van lede van die uitvoerende raad, sowel as die uitvoerende burgemeesters van die Dawid Kruiper-munisipaliteit en die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit.

Volgens Gaosekwe sal een van die hoogtepunte van die dag die seremoniële hernoeming van Schröderstraat na Alfred Qhayiso Gubulastraat wees, “’n daad van herstellende geregtigheid en ’n simboliese transformasie van openbare ruimtes”.

“Die hernoeming eer die nalatenskap van Alfred Qhayiso Gubula en beklemtoon die provinsie se verbintenis tot die erkenning van sy historiese figure en kulturele mylpale.”

Petisie teen naamsverandering

Ná die amptelike Erfenisdag-seremonie sal Saul die 2025 Noord-Kaapse inheemse spele bekendstel, wat tot Vrydag sal plaasvind. Hierdie spele vier lewende erfenis deur tradisionele sportsoorte, en bevorder kennisoordrag tussen geslagte en trots op kulturele erfenis.

OFM Nuus het voorheen berig inwoners het ’n petisie teen die naamsverandering onderteken.

Die besluit is deur die ANC-beheerde Dawid Kruiper-munisipaliteit deurgevoer en inwoners en opposisieraadslede is omgekrap. Henk Opperman, DA-sweep, sê die DA sal aanhou om die besluit te beveg wat op ’n raadsvergadering goedgekeur is.

“Die DA het Donderdag (11/9) ’n klag van bedrog teen David Kazi, burgemeester, aanhangig gemaak ná sy erkenning dat die petisie teen die naamsverandering ingedien is.

“Die DA het 7 055 handtekeninge teen die naamsverandering ingesamel, maar die gemeenskap se stemme is geïgnoreer.”

Hennie Roux, VF Plus-raadslid, sê die ANC beweer die verandering is gegrond op aanbevelings van die munisipale adviesraad, maar dit is onduidelik hoe hulle tot die gevolgtrekking gekom het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.