On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Hernoeming van die Krugerwildtuin sal slag vir toerisme-ekonomie wees

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:50 Thu, 25 Sep 2025

Hernoeming van die Krugerwildtuin sal slag vir toerisme-ekonomie wees | News Article
Die Kruger is waarskynlik een van die bekendste natuurlewehandelsmerke ter wêreld. Foto: iStock

Die moontlike hernoeming van die Krugerwildtuin sal ’n ernstige terugslag vir Suid-Afrika se toerisme-ekonomie wees. Dit kan internasionale handelsmerkherkenning ondermyn, verwarring onder besoekers skep en groot koste meebring.

Só waarsku prof. Elmarie Slabbert, direkteur van die Toerisme-navorsing in Ekonomie, Omgewing en Samelewing (Trees)-eenheid aan die Noordwes-Universiteit, nadat Mpumalanga se wetgewer Dinsdag (23/9) ’n EFF-mosie aanvaar het om die wildtuin tot die Nasionale Skukuza Park te herdoop. Hoewel dit nie die regte prosedure vir hernoeming is nie, maan kenners dat die implikasies verreikend kan wees.

“Die Kruger is waarskynlik een van die bekendste natuurlewehandelsmerke ter wêreld. Dit word in dieselfde asem genoem as die Serengeti in Kenia en Yellowstone in die VSA. 

Mpumalanga se wetgewer het Dinsdag ’n EFF-mosie aanvaar om die wildtuin tot die Nasionale Skukuza Park te herdoop. Foto: iStock

“Om dit te hernoem, sou ongetwyfeld daardie globale erkenning op kort tot medium termyn verwater,” sê Slabbert. Sy verduidelik dat die Kruger-handelsmerk sinoniem is met Suid-Afrika se toerisme-aanbod en geweldige waarde dra – binnelands sowel as buitelands. 

’n Naamsverandering kan korttermyn-handelsmerkverlies en besoekersonsekerheid veroorsaak, veral omdat buitelandse besoekers nog nie ten volle herstel het ná Covid-19 nie.

“Ons kan dit nie bekostig om buitelandse besoekers op hierdie stadium te verloor nie, en ons kan ook nie verwarring oor een van ons vlagskip-aantreklikhede skep nie,” beklemtoon sy.

Groot finansiële koste

Volgens Slabbert sal die finansiële implikasies beduidend wees. “Hernoeming van die handelsmerk sal ’n wêreldwye bemarkingsveldtog verg – van advertensies en digitale platforms tot opgedateerde materiaal vir toeroperateurs. 

“Dit sal deur die hele toerismesektor uitkring en almal raak wat die Kruger-handelsmerk bevorder en daarop staatmaak.”

Sy erken dat die naam Skukuza dalk meer by plaaslike gemeenskappe kan aanklank vind, maar waarsku dat dit versigtig teen die ekonomiese werklikheid opgeweeg moet word.

Paul Kruger was van 1883 tot 1900 die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek en het in 1898 die park geopen wat na hom vernoem is. Foto: iStock

“Daar sal waarskynlik weerstand wees van Suid-Afrikaners sowel as internasionale ondersteuners wat Kruger as ’n simbool van Suid-Afrikaanse toerisme beskou. Die koste van ’n nuwe identiteit, finansieel en in terme van handelsmerk-ekwiteit, kan jare duur om te herstel.”

Toerisme is verantwoordelik vir 8,8% van Suid-Afrika se BBP (af van 9,5% voor Covid-19) en ondersteun byna 1,7 miljoen werksgeleenthede – wat dit ’n noodsaaklike lewenslyn vir die sukkelende ekonomie maak.

Mosie is “politieke teater”

Die DA is sterk gekant teen die “roekelose en wetlik betekenislose” mosie wat in Mpumalanga se provinsiale wetgewer aanvaar is om die Kruger-Mpumalanga-lughawe en die Krugerwildtuin te hernoem, sê Willie Aucamp.

“Hierdie stap, gedryf deur die EFF en ondersteun deur die ANC en MKP, is niks meer as politieke teater nie – sonder enige regskrag of bindende effek.”

Volgens Aucamp het provinsiale wetgewers nie die gesag om nasionale geografiese kenmerke te hernoem nie. “Daardie mag lê by die Suid-Afrikaanse Raad op Geografiese Name en eindelik die nasionale minister – in hierdie geval die DA-minister van Omgewing, Bosbou en Visserye, dr. Dion George.”

Reputasie op spel

Hy sê indien die mosie enige regsgewig gehad het, sou die gevolge verwoestend wees.

“Die Krugerwildtuin is Suid-Afrika se mees ikoniese en internasionaal erkende toerismebestemming. Die naam dra dekades van wêreldwye welwillendheid en handelsmerkherkenning wat miljoene internasionale besoekers lok – en daarmee saam miljarde in toerisme-inkomste.”

Volgens Aucamp sou ’n naamsverandering hierdie hardverdiende reputasie onherstelbaar beskadig, duisende werksgeleenthede bedreig en ’n pilaar van die ekonomie ondermyn.

Miljoene in belastinggeld

“Elke toeris wat die wildtuin besoek, ondersteun ’n hele ekostelsel van plaaslike besighede: vervoer, verblyf, motorhuur, restaurante, gidse, aandenkings en meer. Die ondermyning van Kruger se handelsmerk is nie net simbolies nie – dit sou lewensonderhoud in gevaar stel en klein besighede doodmaak wat op hierdie wêreldwye aantrekkingskrag staatmaak,” sê Aucamp.

Hy voeg by dat ’n naamsverandering van dié omvang miljoene in belastingbetalersgeld sal kos – vir naamborde, kaarte, webtuistes, uniforms, voertuie en meer. “Dit is geld wat Suid-Afrika eenvoudig nie kan bekostig om te mors nie.”

“Die DA glo dat herbenaming slegs oorweeg moet word waar name diep aanstootlik of verdelend is. Retrospektiewe naamsveranderings wat geen maatskaplike of ekonomiese voordeel bring nie, verdeel eerder as om te verenig,” sluit Aucamp af.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.