Central SA
Syfiguur van Krugerstandbeeld op Kerkplein beskadig─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:29 Fri, 26 Sep 2025

’n Besorgde kenner stel voor dat die historiese Krugerstandbeeld en syfigure op Kerkplein in Pretoria se middestad met replikas vervang word en beter beskerming snags ingestel word nadat een van die syfigure beskadig is.
Die voorval Donderdag (25/9) is nie die eerste keer dat die standbeeld ter ere van pres. Paul Kruger deurloop nie. ’n Groot gietysterplaat wat aan die kant van die hoofstandbeeld gemonteer was, is twee jaar gelede gesteel.
Gelukkig is dit later teruggevind, sê Sakkie du Plooy van die Pretoria-erfeniskomitee. “Een van die bronsbeelde rondom die ikoniese Paul Kruger-monument is gevandaliseer.
Anton Van Wouw saam met twee van die hoekfigure. Foto: Wikipedia
“Die voet van een van die burgerstandbeelde is afgesaag, terwyl ander skade opgedoen het, soos gebreekte geweerlope.” Munisipale skoonmakers het Vrydagoggend op die skade afgekom.
Dis ontstellend dat dit juis in die jaar gebeur wat Paul Kruger se 200ste verjaardag op 10 Oktober gevier sal word, sê Du Plooy. ’n Reeks herdenkingsgeleenthede word beplan om sy nalatenskap te vereer, terwyl ’n presiese replika van die hoofbeeld op Erfenisdag van die Voortrekkermonument na Orania vertrek het.
Hy sê die komitee oorweeg om ’n fondsinsamelingsveldtog te loods wat daarop gemik is om hierdie belangrike deel van die stad se kulturele erfenis te bewaar en toekomstige vandalisme teen die standbeeldgroep te voorkom. Volgens Du Plooy dui bewyse daarop dat die vandale deur die heining gebreek het en klippe gebruik het om skade aan die standbeelde wat die vier gewapende figure voorstel, aan te rig.
Die heining waar hulle glo ingekom het. Foto: Sakkie du Plooy
Die oorspronklike standbeeld is in 1896 deur die nyweraar Sammy Marks geskep deur die beeldhouer Anton van Wouw. Marks het ook die finansiële steun verskaf om die werk te voltooi.
Namens die Pretoria-erfeniskomitee het Du Plooy organisasies soos die FAK en die Krugervereniging versoek om te help met ’n geldinsameling ter beskerming van die monument en die skep van ’n replika. “Ons moet ernstig oorweeg wat die toekoms van Oom Paul se standbeeld op Kerkplein is of ons voortgaan om toe te laat dat dit so gevandaliseer word?”
Hy beveel voorts aan dat ’n replika van die Krugerstandbeeld – soortgelyk aan die een wat vanjaar op Erfenisdag van die Voortrekkermonument na Orania verskuif is – op die plein geplaas word. Die replika wat staanplek op Orania gaan kry, is twee jaar geskep.
Intussen meen die FAK Afrikaners se beelde en bakens is onder beleg.
“Dis nie ’n rokie in die verte nie, maar ’n veldbrand wat vinnig versprei en besig is om ’n volk se nalatenskap te verswelg en vernietig. Nie net die EFF se roekelose rooipet-retoriek in die parlement en op plaaslike regeringsvlak nie, maar veral die fisieke vandalisering van ons erfenis wat voortdurend regdeur die land plaasvind,” sê Dawid Brand, woordvoeder.
“Gewetenlose geskiedenisuitwissers het die vreugdevure wat op Erfenisdag met die vertrek van die ewebeeld van die Paul Kruger-standbeeld vanaf die Voortrekkermonument na Orania aangesteek is, twee keer in die afgelope 24 uur probeer blus.
Die Kruger-standbeeld word plat neergelê voor dit die Voortrekkermonument-terrein verlaat. Foto: Charlotte Drotsky/Parys Gazette
“Benewens die enorme skade aan die twee brandwagte op Kerkplein is die toergroep wat die replika van die Krugerstandbeeld langs verskeie dorpe na Orania begelei, (Vrydagoggend) toegang tot die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus geweier.
“Die erfenisprogram wat vandag daar aangebied sou word, is ook geweier. Dít te midde van die dreunsang van ‘Kill the Boer’, wat herhaaldelik op dié kampus weerklik.
“Hierdie twee gebeure binne 24 uur lê soos ’n donker wolk oor ons Erfenismaandvieringe wat opbou tot die 200ste herdenking van Paul Kruger se geboorte op 10 Oktober.
LEES OOK: ‘Kill the Boer’ weer gesing op Potch-kampus
“Hierdie reis is bedoel as ’n fees van herinnering en hernieude verbintenis tot ons erfenis. Hierdie dade is nie net die teiken van ’n standbeeld nie, maar ’n aanval op wie ons is,” sê Brand.
“Die vandalisme in Pretoria en die weiering in Potchefstroom is ’n wekroep. Dit vra van ons om op te staan, nie meer te pleit nie, maar om te bevestig: ons sal ons erfenis beskerm.
“Ons sal ons monumente onderhou. Ons sal ons kinders leer dat ’n volk wat sy wortels verlaat, soos ’n boom is wat sy eie skadu verloor.”
OFM Nuus mvh