On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Hartswater: Beleggingsbedrogsaak uitgestel tot 2026

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:02 Mon, 13 Oct 2025

Hartswater: Beleggingsbedrogsaak uitgestel tot 2026 | News Article
Ruan Maritz. Foto: SAPD

Die verhoor van die Noord-Kapenaar (30), wat daarvan beskuldig word dat hy beleggers uit miljoene rande bedrieg het, is uitgestel tot 20 Januarie vir verdere verhoor.

Ruan Maritz het Vrydag (10/10) in Hartswater se handelsmisdaadhof verskyn. Hy staan tereg op aanklagte van bedrog nadat hy na bewering beleggers uit R2 miljoen bedrieg het.

“Maritz word daarvan beskuldig dat hy hom as ’n makelaar vir Quick Trade Investment en Forex Trading voorgedoen het. Hy het na bewering die klaers en ander potensiële beleggers geteiken,” het kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.

Maritz het na bewering ’n beleggingsooreenkoms met verskeie beleggers aangegaan waarin van hulle verwag is om 50% van die totale belegging by te dra, terwyl hy die ander helfte sou bydra. Hy het egter na bewering nie sy kant van die ooreenkoms nagekom nie.

Die Valke het hom op 25 Maart in hegtenis geneem. Die volgende dag is hy borgtog van R50 000 toegestaan.

Intussen word verwag dat nog twee Noord-Kapenaars op 30 Oktober in die hof vir ernstige handelsmisdade in Kimberley sal verskyn, nadat hul saak ook uitgestel is.

Borgtog vir Noord-Kaapse vrou wat glo mynregte verkoop | News Article

Roslyn Crossingham. Foto: SAPD

Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) het op 10 September in die landdroshof op Douglas verskyn op aanklagte wat verband hou met mynregtebedrog. Borgtog is aanvanklik vasgestel op R15 000 vir Crossingham en R800 vir Rapetsoa, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder.

Crossingham het die eerste keer op 9 Julie in die hof verskyn en is later as ’n tweede beskuldigde in die saak bygevoeg. Rapetsoa, ’n mededirekteur van Rowen Tree 60, het aanvanklik op 19 Junie in die hof verskyn.

Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek om die hernuwing van prospekteerregte onttrek het nadat die departement van minerale hulpbronne en energie dit reeds verwerk het. Crossingham het intussen na bewering ’n afsonderlike aansoek van 2012, gedurende haar tyd as mededirekteur van dieselfde maatskappy, onttrek.

Terugtrekkingsbrief weerhou

Ten spyte van hierdie terugtrekkings het albei vroue – saam met hul mededirekteure – na bewering steeds die maatskappy, saam met die nou ongeldige mynregte, in 2015 vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop.

“Voordat die betaling afgehandel is, het Crossingham na bewering die maatskappy weer verkoop, hierdie keer aan die klaer, terwyl sy die terugtrekkingsbrief weerhou het om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig was,” sê Mnisi.

Omdat die klaer geglo het dat die regte wettig was, het hy glo R1,368 miljoen vir die maatskappy betaal, waarvan R100 000 na bewering in die persoonlike bankrekening van een van die direkteure betaal is. “Hierdie transaksie het eindelik daartoe gelei dat die klaer die volle R1,368 miljoen verloor het,” sê Mnisi.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.