On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Oudkaptein van Welkom se saak Vrydag hervat ná landdros afwesig is

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:07 Mon, 20 Oct 2025

Oudkaptein van Welkom se saak Vrydag hervat ná landdros afwesig is | News Article
Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, by die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die verrigtinge in die hoëprofielsaak van ’n voormalige Welkomse polisiekaptein en sy vrou word nou eers Vrydag hervat nadat die landdros Maandag (20/10) nie die verhoor kon bywoon nie.

Anna Francina Fourie, vrou van oudkapt. Daniel Jacobus Fourie, sou Maandag met haar getuienis begin ná die voltooiing van haar man se kruisondervraging. Die paartjie staan al byna ses jaar in die Welkom-streekhof tereg op aanklagte van intimidasie en crimen injuria. 

Die saak spruit voort uit ’n langdurige vete met die broers Manny en José Jardim.

Welkom: Voormalige polisiebeampte ontken bewerings in verklaring  | News Article

Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, by die hof. Foto: Charne van der Merwe

In sy laaste verskyning het Daniel Fourie ’n versoek van adv. Allen Simpson, vir die staat, geweier om ’n foto van sy seun hof toe te bring. Die staat meen die foto kan lig werp op die moontlike motief vir die beweerde oortredings.

Die staat voer aan die paartjie se optrede hou verband met vermoedens rakende die vaderskap van hul oudste seun, wat na bewering met een van die klaers verbind word.

In vorige verrigtinge het Simpson Fourie uitgevra oor sy gebruik van aanstootlike terme soos “Porra-skuim” en “verkragter” met verwysing na een van die Jardims, selfs in graffiti in die Goudveld. Hy het gevra of dit verband hou met kommer oor wie die seun se biologiese vader is.

LEES OOK: Oudpolisieman van Welkom se vrou begin getuig in saak oor vete

Fourie het getuig hy het een van die klaers in 2013 ontmoet toe hy ’n vark by hom gekoop het. Hy hou vol dat hy geen verdure kontak met hom gehad het nie.

Volgens hom het hy sy vrou gevra het of sy die man ken, en sy het dit ontken. In vroeëre getuienis het Manny Jardim egter onder eed verklaar dat hy haar wel ken.

In 2021 het Simpson ’n DNS-toets versoek om vaderskap te bepaal, wat Fourie aanvanklik geweier het. Op 15 Augustus het hy aan die hof gesê hy is bereid om die toets te ondergaan, maar hy het sedertdien van plan verander.

Van die graffiti wat ter sprake is in die saak. Foto verskaf

Toe hy gevra is waarom hy nie ’n foto van die kind gebring het nie, het Fourie gesê sy regsverteenwoordiger het hom afgeraai.

Op 29 Augustus het Simpson verwys na verskeie voorvalle waarby die Jardims betrokke was, insluitend ’n oproep wat Fourie na bewering na José Jardim gemaak het, waarin hy beweer het hy soek na Manny weens ’n lasbrief van Ladybrand. 

Hy sou optree in opdrag van ’n “kapt. Van Staden”, ’n persoon wat Simpson bevestig het nie bestaan nie. Simpson noem dit ’n doelbewuste daad van intimidasie.

LEES OOK: Oudpolisieman en vrou se kind dalk rede vir misdaad, sê staat

Ander bewerings sluit in geskille oor varkverkope, die moontlike diefstal van ’n bul, en ’n aangemelde motorjaagtog in Welkom. Die Jardims se suster, Irene de Fratas, het ook getuig dat Fourie na bewering onwelvoeglike gebare teenoor haar gemaak het.

Simpson het Fourie gekonfronteer met nege dreigende boodskappe wat aan drie Jardim-familielede gestuur is. Sommige is ook aan Anna gestuur, na bewering om haar by die voortdurende teistering te betrek.

Volgens Simpson is honderde bykomende boodskappe gestuur vanaf ’n nommer wat gekoppel is aan die paartjie se huisfoon, waartoe Daniel bevestig het slegs hy en Anna toegang gehad het.

’n Boodskap op ’n selfoon wat deel vorm van die ondersoek. Foto verskaf

Verskeie vertragings het die verhoor gekenmerk, insluitend een geval waar Fourie ’n doktersbrief ingedien het, wat verklaar dat Anna brongitis het, en ’n ander waarin hy beweer het dat hy ’n tolk nodig het, al het hy voorheen vrae in Engels beantwoord.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.