On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Liggaam van vermiste 20-jarige ná ’n week uit Heidedal-steengroef gehaal

───   ZENANDE MPAME 09:43 Fri, 24 Oct 2025

Liggaam van vermiste 20-jarige ná ’n week uit Heidedal-steengroef gehaal | News Article
Die liggaam van ’n vermiste 20-jarige man is ná ’n week uit die Heidedal-steengroef gehaal. Foto verskaf

Die liggaam van ’n 20-jarige is uit die Witherow-steengroef in Heidedal, Bloemfontein, gehaal, ’n week nadat hy verdrink het.

Duikers het Donderdagmiddag (23/10) die liggaam van Benjamin van Wyk (20) gevind nadat hy verlede Donderdag onder die water verdwyn het terwyl hy saam met twee vriende geswem het. Bloemfontein se polisie waarsku inwoners van Heidedal opnuut om onder geen omstandighede in die steengroefdam te swem nie.

Van Wyk se vriende het probeer help toe hy in die moeilikheid beland het, maar hy het gesink voordat hulle hom kon bereik. Die Bloemfonteinse duikeenheid, saam met hul kollegas van Welkom, het gehelp om die liggaam uit die water te haal.

Dit is nie die eerste lewe wat hierdie steengroef eis nie. Inwoners het al vroeër versoek die gebied moet beveilig word, veral nadat die eerste verdrinkings in 2016 aangemeld is.


“Die oorledene is geïdentifiseer as Benjamin van Wyk,” sê die Vrystaatse polisiewoordvoerder, Mahlomola Kareli. “ ’n Lykskouing sal uitgevoer word om die presiese doodsoorsaak te bepaal.”

“Dit is nou al die 54ste persoon wie se liggaam daar gevind en uitgehaal is,” sê DA-rdl. Attie Terblanche. “Sommige is vermoor en hul liggaam daar gestort, maar die meeste het verdrink.

“Ons vra al lank dat die steengroef afgesluit of omhein word, maar niks gebeur nie. Ek weet nie hoeveel mense nog hul lewe daar gaan verloor nie, veral kinders.”

Inwoners is intussen omgekrap oor die toegangsgeld by die Heidedal-swembad: R21 per kind en R34 per volwassene. “Die skole sluit binnekort, oor sowat ’n maand, en kinders sê hulle kan dit nie bekostig om in die swembad te gaan swem nie; daarom gaan hulle weer daar (by die steengroef) swem,” meen Terblanche.

Die DA eis ’n dringende ingrypingsplan om verdere verdrinkings te voorkom, aangesien inwoners daar moet gaan swem weens die swembad se sluiting. Die party het belowe om aan Sello More, munisipale bestuurder, te skryf om dringend toe te sien dat die Heidedal-swembad heropen, skoongemaak en veilig vir die publiek gemaak word.

Voorts beplan die DA om op die volgende raadsitting ’n formele versoek in te dien dat Mangaung ’n dringende skoonmaak- en instandhoudingsproses by die Heidedal-swembad loods, en die toegangsfooie hersien en verlaag.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus / Zenande Mpame cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.