Central SA
Gewese Bloemfonteinse landdros se vermeende moordenaars in Februarie verhoor─── ZENANDE MPAME 10:38 Fri, 24 Oct 2025
Die verhoor van die twee beskuldigdes, wat aangekla word van die moord op ’n voormalige Bloemfonteinse landdros, begin na verwagting in Februarie in die hooggeregshof in Bloemfontein.
Letiscia Adams (42) en haar medebeskuldigde Jan Dael (52) word van Maandag 2 Februarie tot Vrydag 6 Februarie verhoor. Die twee het Woensdag (22/10) vir ’n voorlopige verhoor verskyn.
Hulle word aangekla van roof met verswarende omstandighede, moord en dwarsboming van die gereg. Hulle is sedert Januarie in aanhouding nadat hulle aangekeer is vir die moord op oudlanddros Piet Bester (63), ook ’n gewese stut van die Vrystaat en Griekwaland-Wes.
Adams het as huiswerker gewerk en Dael as tuinier op sy plaas in die Glen-gebied buite Bloemfontein, en was langer as 17 jaar daar in diens.
Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder, sê hulle bly in aanhouding tot hul verhoor begin.
Luidens die klagstaat het Dael en Adams vir Bester op Saterdag 11 Januarie tuis besoek, waar Dael en Bester stry gekry het. Dael het na bewering ’n graaf en ’n tuinvurk gehaal en Bester meermale daarmee aangerand.
In Februarie het Jan Greeff, ondersoekbeampte, getuig Dael het teenoor die polisie erken hy het Bester met ’n graaf en tuinvurk aangeval.
Die ondersoekbeampte het die aanklagte uitgestippel:
Moord: Dael het teenoor die polisie erken hy het Bester met ’n graaf en ’n tuinvurk aangeval.
Dwarsboming van die gereg: Hule het nie die polisie in kennis gestel dat Bester oorlede was nie, en hy kon moontlik ’n nag of selfs twee nagte daar gelê het, aangesien die liggaam reeds begin ontbind het toe dit eindelik gevind is. Wat vermoedelik die moordwapens was, ’n graaf en tuinvurk, is terug na die pakkamer geneem, weg van die misdaadtoneel.
Roof met verswarende omstandighede: Bester se Absa-bankkaart is gesteel en later in Adams se besit gevind tydens ondervraging in die polisiekantoor.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.



