On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Piet Bester-moordsaak in Oktober aangehoor

───   ZENANDE MPAME 11:08 Fri, 19 Sep 2025

Piet Bester-moordsaak in Oktober aangehoor | News Article
Piet Bester-moordsaak in Oktober aangehoor. Foto: Zenande Mpame

Twee verdagtes wat teregstaan weens die moord op die oudlanddros en oudrugbyspeler van Bloemfontein Piet Bester word Woensdag, 22 Oktober vir voorlopige verhoor.

Twee verdagtes wat teregstaan weens die moord op die oudlanddros en oudrugbyspeler van Bloemfontein Piet Bester word in Oktober verhoor. Letiscia Adams (42) het Woensdag (17/9) weer in die hof verskyn vir ’n voorverhoor nadat sy die oorspronklike verrigtinge op Woensdag 3 September misgeloop het weens die polisie se versuim om haar hof toe te bring.

Haar medeverdagte, Jan Dael (52), het op 3 September in sy voorverhoor vir die eerste keer in die hooggeregshof verskyn. Die twee staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling. 

Die verdagtes is sedert hul inhegtenisneming in Januarie in aanhouding, nadat Bester, voormalige landdros van Bloemfontein en oud-stut van die Vrystaat-Cheetahs en Griekwas, se lyk met veelvuldige wonde op sy plaas gekry is. “Die saak is uitgestel tot 22 Oktober 2025 vir die uitslag van die verdediging se vertoë rakende beskuldigde nommer twee,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder in die Vrystaat.

In Februarie het die ondersoekbeampte, Jan Greeff, getuig dat Dael op ’n Sondag aan die polisie erken het dat hy vir Piet Bester (63) met ’n graaf en ’n tuinvurk aangerand het.

Voor hul inhegtenisneming het Dael en Adams glo in ’n plaaslike kroeg erken dat hulle vir Bester vermoor het. ’n Werker van ’n naburige plaas het dit gehoor en sy werkgewer ingelig, wat toe ’n burgerlike inhegtenisneming uitgevoer het.

LEES OOK: Piet Bester-moordsaak vir voorverhoor in Bloemfontein uitgestel 

“Die oorledene is halfnaak gevind, geklee slegs in ’n T-hemp en onderklere, bedek met ’n wit laken,” het Greeff in die getuiebank gesê. “Tydens verdere ondersoek is vasgestel dat R4 000 uit Bester se rekening onttrek is.”

Aanklagstukke, ’n formele, geskrewe dokument waarin iemand aan die begin van ’n strafregtelike saak ingelig word dat hy of sy van ’n misdaad aangekla word, is in Junie oorhandig.

Die aanklagstuk het onthul dat Dael en Adams op Saterdag 11 Januarie vir Bester by sy huis besoek het, en dat ’n argument tussen Dael en Bester ontstaan het. Dael het glo toe ’n graaf en ’n tuinvurk gaan haal en vir Bester verskeie kere daarmee geslaan.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.