Central SA
Heuwelsig en Dan Pienaar kan 12 uur sonder water sit─── ZENANDE MPAME 12:49 Mon, 27 Oct 2025
Inwoners van minstens twee van Bloemfontein se noordelike voorstede, Heuwelsig en Dan Pienaar, word aangeraai om voor te berei vir ’n tydelike onderbreking van watervoorsiening Dinsdag (28/10).
Die Mangaung-munisipaliteit sal noodsaaklike herstelwerk uitvoer aan die Heuwelsig-pompstasie se pyplyn, wat deel uitmaak van die stad se voortdurende pogings om die betroubaarheid van waterinfrastruktuur dwarsoor die metro te verbeter. Inwoners word aangeraai om voor te berei vir ’n twaalf uur lange wateronderbreking van 08:00 tot 20:00.
Die herstelwerk behels die sluit van kleppe, wat die watervloei na verskeie voorstede, insluitend Heuwelsig, Dan Pienaar en omliggende gebiede, reguleer.
“Inwoners word in kennis gestel dat daar herstelwerk aan die Heuwelsig-pompstasie se pyplyn sal plaasvind,” sê metrowoordvoerder Qondile Khedama. “Ons vra verskoning vir enige ongerief wat dit veroorsaak en vra inwoners moet water spaarsaam gebruik gedurende hierdie tydperk.”

Intussen is inwoners van Dealesville raadop nadat hulle reeds 12 dae sonder water moet klaarkom. ’n Hoofpomp op die plaas met die boorgate wat die dorp van water voorsien, het onklaar geraak.
Sedert begin vandeesmaand sukkel die gemeenskap om toegang tot water te kry. Party dele se krane is al twaalf dae lank kurkdroog. Verlede Maandag het sommige gebiede ’n kwartier lank 20 liter gekry.
Die DA het belowe om op te tree en die Tokologo-munisipaliteit te betrek om te verseker dat langtermyn- en volhoubare oplossings ingestel word om Dealesville se aanhoudende watertekorte die hoof te bied.
“Toe die hoofpomp breek, het dit die druk aansienlik verminder,” sê DA-raadslid Hismajesty Maqhubu. “Toe die munisipaliteit die pomp herstel, het twee strate sonder water gebly, Kerk- en Dalestraat.
“Die span wat aan water werk, moes die pompure na die dorp verhoog om die druk na normaal terug te bring. Hulle hou die proses deur die dag fyn dop en het ook al die kleppe nagegaan om te verseker dat geen gesluit is nie.
“Tot dusver verloop alles glad, maar weens verouderde infrastruktuur is niks voorspelbaar nie.”
In die Ngwathe-munisipaliteit is ’n hofaansoek vir ’n uitspraak oor dienslewering teen dié Noord-Vrystaatse munisipaliteit van die hofrol verwwyder. Dit maak deel uit van AfriForum se voortdurende regstryd met die munisipaliteit.
Vroeër vanjaar het die hooggeregshof in Bloemfontein beslis die plaaslike owerheid het in gebreke gebly om sy grondwetlike, wetlike en administratiewe plig teenoor inwoners van Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort na te kom.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


