Central SA
Vrystaatse LUR doen beroep op kalmte ná kleuter se dood in Glen─── ZENANDE MPAME 16:12 Tue, 28 Oct 2025
Die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid vra kalmte en samehorigheid in die gemeenskap van Glen ná die ontdekking van die liggaam van ’n driejarige.
LUR Jabu Mbalula het Maandag (27/10) die treurende gemeenskap toegespreek ná die ontdekking Saterdag (25/10) van die liggaam van Katleho Leeuw. ’n Verbyganger het daarop afgekom ná ’n intense, drie dag lange soektog.
Katleho se liggaam is Saterdag in ’n bos sowat 200 m van haar huis af gevind, nadat haar ma haar Donderdag (23/10) as vermis aangemeld het. Voorlopige ondersoeke toon Katleho is seksueel aangerand en vermoor.
“Ek vra die gemeenskap van Glen om die polisie toe te laat om hul ondersoek te doen ná hierdie ontdekking,” sê Mbalula. “’n Ervare span ondersoekers is saamgestel om dié wat verantwoordelik is, voor die gereg te bring.
“Ek wil ons innige meegevoel betuig met almal wat deur Katleho se dood geraak word. Ons is diep bedroef oor die skielike dood van ’n jong, weerlose kind.
“Ons het ’n multidissiplinêre span van ervare ondersoekers saamgestel om ’n klopjag te loods op dié wat verantwoordelik is vir hierdie barbaarse misdaad. Daar is reeds persone van belang wat ondervra word, en ons is vol vertroue dat geregtigheid sal seëvier.”
Katleho is laas gesien waar sy saam met ander kinders in die agterplaas van haar huis in Glen-lokasie gespeel het. Sy het ’n geel T-hemp, blou jeans en swart skoene gedra.
Die soektog, onder leiding van kapt. Jerry Motaung van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, het voortgeduur tot Saterdagoggend, toe ’n verbyganger Katleho se liggaam ontdek het waar dit in digte bosse naby die township in Glen weggegooi is.
Elzabe Rockman, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, het die gemeenskap van Glen versoek om saam te staan en te verhoed dat bose invloede nog skade aanrig.
“Elke vrou en elke moeder wat hier sit, is hartseer dat dit gebeur het,” het Rockman gesê.
“(Wyle oudpres.) Nelson Mandela het op ’n keer gesê ons sal beoordeel word volgens hoe ons die kwesbares in ons gemeenskappe versorg, en niemand is meer kwesbaar as ons kinders nie. Ek dink boosheid het sy pad tot in ons gemeenskap gevind.
“Daarom moet ons saamstaan en na mekaar omsien. Dit is die enigste manier waarop ons van hierdie kwaad ontslae kan raak.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


