Central SA
Welkomse seksoortreder laat vaar borgaansoek in bedrogsaak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:30 Wed, 29 Oct 2025
’n Welkomse prokureur, wat drie lewenslange vonnisse vir seksuele oortredings uitdien, het sy borgtogaansoek in ’n afsonderlike bedrogsaak teruggetrek.
Jan Gysbert Maritz (57) het Dinsdag (28/10) vlugtig in die Welkom-landdroshof verskyn vir wat na verwagting ’n twee dag lange borgtogaansoek kon gewees het. Maritz het die hof egter meegedeel dat hy nie meer met die aansoek wil voortgaan nie.
Hulle het besluit om die borgtogaansoek vir eers terug te trek en hulle liewer toe te spits op Maritz se appèl teen sy drie lewenslange vonnisse, sê F.C. Schilling, sy regsverteenwoordiger.
“Indien die appèl suksesvol is, sal ons oorweeg om voort te gaan met die borgtogaansoek wat verband hou met die … bedrogsaak van R15 miljoen.” Maritz, ’n voormalige prokureur vir Matjhabeng-munisipaliteit, is vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem weens beweerde bedrog van R15 miljoen.
Hy word daarvan beskuldig dat hy geld van ’n regsooreenkoms na die rekening van sy beslote korporasie, Major Issues 314, herlei het, in plaas daarvan om die geld aan die regmatige maatskappy, Oryx Trading, te betaal. Hy staan tereg op vier aanklagte, waaronder bedrog, vervalsing en geldwassery.
Maritz is op 17 Oktober in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis nadat hy in Mei 2021 skuldig bevind is op 16 aanklagte van die seksuele misbruik van minderjariges tussen 2007 en 2014 op Virginia, Odendaalsrus en in Welkom.
Nasionale register van seksoortreders
Tydens vonnisoplegging vir sy seksuele oortredings het adv. Amanda Bester, staatsaanklaer, aangevoer die erns van sy misdade en die trauma wat sy slagoffers aangedoen is, regverdig lewenslange tronkstraf.
Adv. Coenie Pieterse, vir die verdediging, het die hof om toegeeflikheid gevra vanweë Maritz se gesondheid en vorige gemeenskapsbetrokkenheid, maar regter Soma Naidoo het hierdie argumente van die hand gewys.
Sy naam sal verder op die nasionale register van seksoortreders geplaas word en hy word permanent verbied om met kinders te werk.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


