Central SA
Vrystaatse prokureur kry lewenslank vir seksuele oortredings─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:33 Fri, 17 Oct 2025

Die Vrystaatse prokureur, wat skuldig bevind is aan verskeie seksuele oortredings met minderjariges, is tot drie maal lewenslange tronkstraf gevonnis.
Jan Gysbert Maritz (57) is Vrydag (17/10) in die hooggeregshof in Bloemfonteinse gevonnis nadat hy reeds in Mei 2021 aan 16 aanklagte skuldig bevind is. Maritz se oortredings is tussen 2007 en 2014 op Virginia, Odendaalsrus en in Welkom gepleeg. Al sy slagoffers was ten tyde van die misdrywe jonger as 18.
Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Die oortreder se naam sal op die register van seksuele oortreders geplaas word, en hy word ook permanent ongeskik verklaar om met kinders te werk.
Vonnisse
- verkragting van minderjariges: drie lewenslange vonnisse;
- seksuele voorbereiding: agt jaar elk (twee aanklagte);
- blootstelling aan pornografie: vyf jaar elk (twee aanklagte);
- seksuele uitbuiting: vyf jaar;
- produksie van pornografie: vyf jaar;
- seksuele aanranding: vyf jaar; en
- seksuele aanranding en aanranding: drie jaar elk (vier aanklagte).
Jan Gysbert Maritz. Foto: Charne van der Merwe
Tydens Donderdag se verrigtinge het adv. Amanda Bester, die staatsaanklaer, aangevoer Maritz verdien ’n lewenslange vonnis weens die erns van sy misdade en die blywende trauma, wat sy slagoffers aangedoen is. Sy het uitgelig hoe die oortredings die slagoffers diep geraak het.
Tydens vonnisoplegging het regter Soma Naidoo gemeld die slagoffers was jonk en kwesbaar, en dat Maritz sy magsposisie en finansiële middele uitgebuit het om hulle tot gehoorsaamheid te manipuleer.
“Die slagoffers was getraumatiseer, en dit het hulle wantrouig teenoor mense gemaak,” het Naidoo gesê.
LEES OOK: Welkom-prokureur Vrydag gevonnis vir seksdade met kinders
In sy pleidooi om vonnisversagting het Maritz se regsverteenwoordiger, Pieterse, aangevoer sy kliënt het reeds beduidende persoonlike verliese gely, insluitend die verbrokkeling van sy gesin.
Maritz, ’n voormalige munisipale prokureur, het betekenisvolle bydraes tot die gemeenskap gelewer, soos geldelike skenkings aan plaaslike skole, het Pieterse gesê.
Naidoo het egter die argument oor Maritz se gesondheid van die hand gewys en gesê sy harttoestand het nie verhinder dat hy ’n normale lewe leef nie.
Verdere bedrogklag
Intussen is Maritz verlede Vrydag (10/10) in hegtenis geneem in verband met ’n bedrogklag in verband met sy werk by Matjhabeng-munisipaliteit.
Hy het na bewering die munisipaliteit uit R15 miljoen bedrieg deur geld in ’n regsgeding in die bankrekening van sy beslote korporasie, Major Issues 314, in te betaal en nie aan Orxy Trading, vir wie die bedrag geoormerk was nie.
Hy staan tereg op vier aanklagte, waaronder bedrog, vervalsing en geldwassery.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.