Central SA
Nuwe eis dat NWU stem dik maak teen ‘Kill the boer’─── 05:12 Sat, 01 Nov 2025
AfriForum Jeug eis die Noordwes-Universiteit (NWU) moet sy benadering heroorweeg en standpunt inneem teen “haatspraak en aanhitsing tot geweld”.
Daar is opnuut weer omstredenheid oor die sing van die lied “Kill the boer” op die Potchefstroomkampus. Die organisasie het twee maande gelede ook gevra die NWU moet die dreunsang in die openbaar veroordeel.
Dit is na bewering op 22 September gesing tydens die oorhandiging van ’n griefskrif deur die EFF Jeugliga en ander studentebewegings aan die universiteitsbestuur op die Potchefstroomkampus, sê Yvonne Gerber van AfriForum Jeug.
“Die betoging wat daarop gemik was om ’n klagte oor beweerde rassisme en (wit heerskappy) by die instelling in te dien, het klasse ontwrig en sommige studente onveilig laat voel.”
Die betogers het glo plakkate gehad met slagspreuke soos “skiet om dood te maak” en “Kill the boer”.
Ons het reeds voor die protes kommer uitgespreek en op 11 en 19 September briewe aan die NWU-bestuur gerig waarin duidelikheid versoek is oor kampusveiligheid en die universiteit se standpunt oor liedjies wat geweld aanhits, sê Gerber.
Die organisasie het ook ’n petisie met meer as 6 000 handtekeninge oorhandig waarin geëis word die lied moet op alle NWU-kampusse verbied word. Ná die protes het AfriForum Jeug die universiteit 48 uur gegee om te reageer voordat verdere optrede oorweeg word.
In sy skriftelike reaksie aan die organisasie het die NWU verklaar hy beskou die sing van “Kill the boer” tydens die betoging nie as haatspraak nie. Dit moet verstaan word in die konteks waarin dit gesing is.
Veiligheid en waardigheid
Die universiteit meen daar is geen aanduiding van aanhitsing tot geweld of gedrag wat vrees of intimidasie onder studente kan veroorsaak nie.
AfriForum Jeug beskryf die universiteit se standpunt as “teleurstellend” en teenstrydig met sy eie beleide oor betogings en protesoptrede. “Deur te weier om die sing van ‘Kill the boer’ te veroordeel, stuur die NWU ’n duidelike boodskap die veiligheid en waardigheid van sekere studente is nie ’n prioriteit nie.”
Die organisasie vra die NWU moet duidelik standpunt inneem teen enige vorm van haatspraak of gedrag wat verdeeldheid bevorder. Die instelling se geloofwaardigheid en waardes van respek en aanspreeklikheid is op die spel, meen AfriForum Jeug.
OFM Nuus het die NWU om kommentaar genader.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg


