On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
Show Background
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Rustenburg: NVG gaan nie vermeende moordenaars se borgtog teenstaan

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 05:19 Sat, 01 Nov 2025

Rustenburg: NVG gaan nie vermeende moordenaars se borgtog teenstaan | News Article
George en Wilma Koster. Foto: Facebook

Die twee mans is aangekla vir die moord op ’n Noordwes-egpaar op die parkeerterrein van ’n Rustenburgse winkelsentrum.

Die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes het Onke Bongo (31) en Gift Tinyiko Mhlanga (29) op 21 Oktober op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hulle het appèl aangeteken teen die landdroshof se weiering om hulle op borgtog vry te laat. 

Hulle word beskuldig van die moord op George (69) en Wilma (55) Koster van Rustenburg. Hulle word ook aangekla van regsverydeling nadat hulle in ’n Kia op die vlug geslaan en probeer het om dit by Mhlanga se huis weg te steek.

“Die NVG sal nie die borgtog teenstaan nie, want ons glo dit sal die saak net vertraag,” sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder in Noordwes.

Nie korrekte prosedure

Die beskuldigdes se regspan het nie die korrekte prosedure gevolg toe hulle hul appèlaansoek ingedien het nie, sê hy. “Hulle het versuim om hul betoë in te dien voor die verhoor plaasgevind het.”

Bongo en Mhlanga is op 17 Junie in hegtenis geneem. Hul eerste borgtogaansoek is op 15 Julie geweier weens kommer dat hulle getuies sou intimideer.

“Die twee het aangevoer hulle is die primêre versorgers van minderjarige kinders, het geen vorige veroordelings of hangende sake teen hulle nie. Hulle het ook hul samewerking gegee,” sê Gunya.

Ongegronde bewerings

“Die regter in die hooggeregshof het beslis die landdros het fouteer deur borgtog te weier en onnodige waarde te heg aan ongegronde bewerings dat Mhlanga na Mosambiek sou vlug.

“Die regter het ook bevind albei beskuldigdes het ’n huisadres, stabiele werk en sterk familiebande in Suid-Afrika. Geen bewyse is aangebied dat een van hulle ’n paspoort besit of ’n vlugrisiko is nie.”

As deel van hul borgtogvoorwaardes moet Bongo en Mhlanga een keer per week by die Rustenburg-polisiekantoor aanmeld en word hulle streng verbied om getuies te nader of in te meng met die voortgesette ondersoek.

Die Koster-egpaar is op 14 Junie op die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg doodgeskiet.

Tydens ’n vroeëre hofverskyning het lt.kol. Patrick Murunwa, ondersoekbeampte, getuig die beskuldigdes het in ’n wit Kia by die winkelsentrum aangekom en langs die Kosters se silwer Jeep geparkeer.

Volgens sy getuienis het Bongo na bewering die Kia se deur oopgemaak en die Jeep getref. George het uitgeklim om die skade te ondersoek en ’n woordewisseling het gevolg. 

‘Haar na bewering ook geskiet’

“Bongo het Koster na bewering doodgeskiet waarna Mhlanga met die Kia agteruit begin ry het,” sê Gunya. “Wilma het toe die Kia se linkeragterruit gebreek en Bongo het haar na bewering ook geskiet.”

Die ondersoek duur voort. Albei beskuldigdes sal na verwagting skuld ontken. Dit is nog onbekend wanneer hulle weer in die hof moet verskyn. 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.