Central SA
Polisie ondersoek 8-jarige se verdrinking in Oos-Vrystaat─── ZENANDE MPAME 10:18 Wed, 05 Nov 2025
Die polisie op Phuthaditjhaba ondersoek die verdrinking van ’n agtjarige, wie se liggaam uit ’n rivier gehaal is waarin hy in die omgewing van Namahadi geswem het.
Rapelang Mabote het Saterdag (1/11) saam met maats in die Kgoptjanerivier geswem toe hy in die moeilikheid beland. Die voorval laat nogmaals kommer ontstaan oor kinderveiligheid in Vrystaatse damme, rivier en ander waterbronne, veral in Phuthaditjhaba en Bloemfontein, waar talle kinders hul lewe in die laaste jare verloor het.
Beamptes van Phuthaditjhaba se soek-en-reddingspan, bygestaan deur duikers van Maluti-a-Phofung (MaP), het die seun se liggaam die volgende dag uit die water gehaal. Luidens berigte het Rapelang se vriende weggehardloop toe hy onder die water verdwyn, omdat hulle bevrees was ’n waterslang het hom ingesluk.
“Ons herinner ouers en inwoners weereens om toesig te hou oor kinders wat in plaaslike riviere swem,” sê Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Hetsy om nedersettings of buite dorpe, kinders moet altyd opgepas word.”
Elke kinderlewe is kosbaar, voeg sy by. “Ons maan inwoners om verantwoordelikheid te aanvaar deur kinders te ontmoedig en te verhoed om in riviere, damme en uitgediende steengroewe te swem.”
Sy sê tragedies gebeur omdat baie kinders nie kan swem nie.
Intussen is sommige Mangaung-raadslede woedend oor die aanhoudende verdrinkings in die berugte Witherow-steengroef in Heidedal. Hulle verkwalik die metro omdat hy in gebreke bly om inwoners teen gedurige tragedies te beskerm.
In die jongste voorval het Benjamin van Wyk (20), wat glo saam met twee vriende geswem het, in die moeilikheid beland het. Sy vriende het hom te hulp gesnel, maar hy het onder die water verdwyn voor hulle hom kon bereik het.
Maluti-a-Phofung het geen werkende munisipale swembad nie, sê DA-rdl. Alison Oates. “Die DA is baie hartseer om te hoor van die verlies van die jong kind, wat in ’n rivier geswem het, se lewe.”
QwaQwa het geen openbare swembaddens nie; Harrismith en Intabazwe s’n is heeltemal onbruikbaar, voeg sy by. Sportgeriewe vir jong mense in MaP bestaan byna glad nie.
“En tog kan die departement van sport derduisende rand bestee om personeel na ’n sportbyeenkoms in Rustenburg te neem,” sê Oats. “Hierdie munisipaliteit het regtig eienaardige prioriteite.”
• Have a news tip to share? Phone or whatsapp the OFM News Hotline: 066 487 1427.


