Central SA
Soektog na vermiste Glen-seuntjie verskerp─── ZENANDE MPAME 10:00 Mon, 10 Nov 2025
Die Vrystaatse polisie is op soek na ’n vyfjarige seuntjie van Glen wat reeds twee dae lank vermis is.
Onkarabetse Leeuw (5) is Saterdag (8/11) laas gesien nadat hy glo na ’n maatjie toe gegaan het. Sy verdwyning kom kort ná die dood van Katleho Leeuw (3), die kind van sy ma se niggie, wie se liggaam einde Oktober gevind is nadat sy vermoor is.
Onkarabetse is laas gesien in ’n vaal-en-swart T-hemp met lang moue, ’n geel kortbroek en wit tekkies. Hy is lig van gelaat.

VS-leiers ingelig oor vermiste kleuter. Foto verskaf
Vrystaatse premier MaQueen Letsoha Mathae, saam met Jabu Mbalula, LUR vir gemeenskapsveiligheid, en Elzabe Rockman, LUR vir landbou, is Sondag oor die verdwyning ingelig. Hulle doen ’n beroep op enigeen met inligting om dit by die Glen-polisiekantoor aan te meld.
“Volgens sy ma het hy Saterdag omstreeks 16:00 van die huis af weg om sy pet by ’n vriend te gaan haal en hy het nooit teruggekeer nie,” sê Thabo Covane, polisiewoordvoerder vir die Vrystaat.
Die polisie vra enigiemand met inligting wat kan help om Onkarabetse op te spoor, om kapt. Jeremiah Mofokeng by 071 682 5093 te kontak. Inligting kan ook deur die MySAPS-app ingedien word of aan Stop Misdaad gerapporteer word by 08600 10111.
Verband met Katleho se saak
Katleho se liggaam is onlangs in bosse naby Glen gevind ná ’n driedaagse soektog. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat sy ook seksueel aangerand is.
Haar begrafnis is Dinsdag gehou.
Die saak teen haar vermeende moordenaar en verkragter sal vroeg in Desember in die Bloemfonteinse landdroshof hervat, nadat die beskuldigde ’n maand lank in die Vrystaatse psigiatriese hospitaal vir waarneming was.
Die 30-jarige verdagte se naam mag nie bekend gemaak word voordat hy gepleit het nie. Hy het van sy borgtogaansoek afgesien en geweier dat die media hom afneem.
Geen wagperiode
Volgens die organisasie The Pink Ladies hoef familielede nie te wag om ’n vermiste persoon aan te meld nie.
“As iemand vermis word of jy voel iets is verkeerd, meld dit onmiddellik aan. Hou asseblief in gedagte dat daar nog nooit ’n sogenaamde 24-uur-wagperiode bestaan het nie,” sê Jacqui Thomas, medestigter en direkteur van die organisasie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


