Central SA
Potch-skietery: Man in kritieke toestand, broer sterf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:26 Wed, 12 Nov 2025
Die man wat Maandag (10/11) se skietery in die Noordwes op hom en sy broer oorleef het, verkeer in ’n kritieke maar stabiele toestand in ’n Gautengse hospitaal se intensiewesorgeenheid.
Deon Fourie en sy broer, Johnathan, was tydens die voorval in ’n vergadering met die vermeende skieter (73) by Chubby Chick se kantoor in Potchefstroom se nywerheidsgebied. Volgens voorlopige inligting het die gesprek ’n eiendomstransaksie gehandel, sê die maatskappy in ’n verklaring.
Deon het die voorval oorleef, maar Johnathan is op die toneel dood verklaar.
Die verdagte het die gebou ná die bespreking verlaat, maar ongeveer ’n halfuur later teruggekeer, luidens die verklaring.
“Deon was steeds in die raadsaal toe die man die gebou weer binnegegaan het en hom verskeie kere geskiet het. Ten spyte van sy beserings het Deon daarin geslaag om hulp te ontbied.”
Johnathan, Chubby Chick se direkteur, het onmiddellik gereageer en die raadsaal binnegegaan, waar hy ook meermale geskiet is.
Veiligheidswagte het oomblikke later opgedaag, wat tot nog ’n skietgeveg gelei het. “Die verdagte is gewond en na ’n plaaslike hospitaal vervoer, waar hy onder streng polisietoesig bly.”
Hy verkeer steeds in die hospitaal, sê kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
Chubby Chick benadruk die vermeende skieter is nie ’n oudwerknemer nie en die voorval is ook nie rasseverwant nie. Die maatskappy veroordeel enige gerugte of bespiegeling tot die teendeel.

Die voorval het by Chubby Chick perseel plaasgevind. Foto runningmann
Sy sakekontinuïteitsplan het onmiddellik in werking getree, sê die firma, wat verseker bedrywighede gaan normaal voort.
Omvattende berading en trauma-ondersteuningsdienste is beskikbaargestel aan alle werknemers en hul naasbestaandes. Dié sessies duur voort, en bykomende ondersteuning sal verskaf word soos nodig.
Die maatskappy vra die publiek en media moenie onbevestigde inligting of gerugte versprei nie, veral op sosiale media. “Ons vra dat hul privaatheid gedurende hierdie moeilike tyd gerespekteer word,” sê die maatskappy.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


