On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-broers glo geskiet, een noodlottig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:35 Mon, 10 Nov 2025

Noordwes-broers glo geskiet, een noodlottig | News Article
Jonathan Fourie en sy vrou, Nadine. Foto: Facebook

’n Werknemer (73) van ’n onderneming in Potchefstroom is in die hospitaal onder polisiebewaking nadat hy na bewering tydens ’n vergadering op twee broers losgebrand het.

Volgens ’n anonieme bron is Jonathan Fourie Maandag (11/10) noodlottig deur een van sy werknemers geskiet, terwyl sy broer, Deon, kritiek beseer is nadat hy na bewering twee keer in die nek geskiet is. Die Fourie-broers besit Chubby Chick, ’n groot hoenderboerdery.

“Een slagoffer is op die toneel dood verklaar, terwyl die ander een … in ’n kritieke toestand na die hospitaal geneem is,” sê Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder. 

Die Fourie-broers besit Chubby Chick, ’n groot hoenderboerdery. Foto: runningmann

“Ná die voorval het sekerheidswagte, wat die skote gehoor het, gereageer en op die verdagte geskiet.” Myburgh sê ’n saak van moord en poging tot moord word ondersoek.

In ’n afsonderlike skietvoorval sal twee mans in Januarie weer in die hof verskyn vir die beweerde moord op ’n Rustenburgse paartjie. Die hooggeregshof in Mmabatho het Onke Bongo (30) en Gift Tinyiko Mhlanga (29) R5 000 borgtog elk toegestaan nadat hulle suksesvol teen ’n vorige uitspraak van die Rustenburgse landdroshof geappelleer het.

Die tweetal staan tereg op twee aanklagte van moord ná die dood van George (69) en Wilma (55) Koster, asook ’n aanklag van regsverydeling. 

Die aanklagte spruit uit bewerings dat hulle van die toneel in ’n Kia-voertuig gevlug het en later probeer het om dit by Mhlanga se woning weg te steek.

Die paartjie is op 14 Junie op die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg doodgeskiet. 

Bongo en Mhlanga is drie dae later in hegtenis geneem na ’n gemeenskapswenk. Hul aanvanklike borgtogaansoeke is op 15 Julie van die hand gewys weens kommer dat hulle na bewering getuies geïntimideer het.

‘Die hooggeregshofregter het beslis die landdros het ’n fout gemaak deur borgtog te weier’

Tydens hul appèl het die beskuldigdes aangevoer dat hulle die primêre versorgers van minderjarige kinders is, geen vorige veroordelings of hangende sake het nie en ten volle met die polisie saamgewerk het.

Hulle het die hof ook verseker dat hulle nie met getuies of bewyse sou inmeng nie, het Sivenathi Gunya, provinsiale NVG-woordvoerder, gesê. Die NVG het nie borgtog teengestaan nie omdat dit slegs die verhoor sou vertraag het.

“Die hooggeregshofregter het beslis die landdros het ’n fout gemaak deur borgtog te weier en onnodige waarde te heg aan ongegronde bewerings dat Mhlanga na Mosambiek sou vlug,” sê Gunya.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.