Central SA
Vrystaatse gemeenskap treur oor seuntjie se dood─── ZENANDE MPAME 11:45 Thu, 13 Nov 2025
Die soektog na ’n seuntjie van die nedersetting Glen het tragies geëindig toe die vyfjarige se liggaam onder ’n kartonboks in digte plantegroei aan die suidelike buitewyke van Glen-lokasie gevind is.
Klein Onkarabetse Leeuw is Saterdag (8/11) laas gesien nadat hy sy ouerhuis verlaat het om, volgens hom, sy pet by ’n maatjie te gaan haal. Sy ma is ’n niggie van die vermoorde Katleho Leeuw se ma, Vuyiswa.
Woensdag het kol. Abraham Cilliers van Bloemfontein se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, en kol. Isak Francis ’n bewusmakingsveldtog oor gesinsgeweld in Glen gelei terwyl die soektog steeds aan die gang was. Sy liggaam is blykbaar omstreeks 16:00 gevind nadat speurders en inwoners vier dae lank na hom gesoek het.
“Die liggaam van die jong Onkarabetse is op Woensdag omstreeks 16:17 onder ’n kartonboks in digte plantegroei aan die suidelike buitewyke van Glen-lokasie gevind,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “’n Saakdossier van ontvoering en moord is by die Glen-polisiestasie geregistreer. Die polisie het ook die 29-jarige tante in hegtenis geneem, wat binnekort in die Bloemfontein-landdroshof sal verskyn.”
Volgens berigte glo sy ma, Rethabile, dat ’n familielid haar seuntjie ontvoer het uit wraak vir dit wat die familielid se man glo aan klein Katleho gedoen het. Die driejarige se vermeende moordenaar en verkragter kom na verwagting op 4 Desember weer in die Bloemfonteinse landdroshof voor.
Intussen vra premier MaQueen Letsoha Mathae dat die publiek met enige inligting na vore moet kom wat die ondersoek na Onkarabetse se dood kan help.
Elzabe Rockman, LUR vir landbou, skryf op Facebook: “Die boosheid op die dorpie Glen moet end kry!” Sy het bevestig dat die seuntjie se liggaam opgespoor is.
Katleho se vermeende moordenaar en verkragter is in die Vrystaatse psigiatriese hospitaal opgeneem vir ’n maand lange waarneming. Die 30-jarige, wie se naam nie bekend gemaak mag word voordat hy gepleit het nie, het intussen sy borgtogaansoek laat vaar.
So moet jy optree wanneer ’n kind vermis word.
- Deursoek eers die omgewing waar die kind laas gesien is en voer ’n vyf-punt-soektog uit: noord, suid, oos, wes en vanaf die plek waar hulle laas gewaar is. Moenie egter te veel tyd daaraan bestee nie, veral by jong kinders, aangesien die eerste uur lewensbelangrik is.
- Kontak hul maats en rapporteer die verdwyning onmiddellik by die polisie, veral as jy vermoed dat die kind iets oorgekom het of seergekry het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


