On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Broers-aanval: Noordwester dán weer voor hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:59 Mon, 17 Nov 2025

Broers-aanval: Noordwester dán weer voor hof | News Article
Johnathan Fourie en sy vrou, Nadine. Foto: Facebook

’n Man van Noordwes, wat aangekla word van moord en poging tot moord op twee broers, kom na verwagting weer Woensdag (19/11) voor in die Potchefstroomse landdroshof.

Robert Joubert (73) word steeds onder polisiebewaking in die Potchefstroomse staatshospitaal behandel nadat hy Johnathan Fourie (52) na bewering Maandag (10/11) doodgeskiet het. Fourie se broer, Deon (55), is ernstig beseer. 

Joubert is verlede week in sy afwesigheid aangekla van moord en poging tot moord toe die saak in die Potchefstroomse landdroshof voorgekom het. Volgens ’n verklaring deur die maatskappy was die broers in ’n vergadering met Joubert in Chubby Chick se kantoor in die Potchefstroom-nywerheidsgebied om ’n eiendomstransaksie te bespreek toe die voorval plaasgevind het.

Robert Joubert word steeds onder polisiebewaking in die Potchefstroomse staatshospitaal behandel. Foto: X

“Joubert het die gebou ná die bespreking verlaat, maar ongeveer ’n halfuur later teruggekeer. Deon was steeds in die raadsaal toe hy weer die gebou binnegaan en hom verskeie kere skiet. 

“Ten spyte van sy beserings het Deon daarin geslaag om hulp te ontbied.” Johnathan, ’n direkteur van Chubby Chick, het onmiddellik op die noodroep gereageer en is ook meermale geskiet toe hy die raadsaal binnegaan.

’n Veiligheidsbeampte het op die geweerskote gereageer en Joubert na bewering geskiet om hom te oorweldig. Deon is per helikopter na ’n hospitaal in Gauteng geneem, waar hy ’n noodoperasie ondergaan het.

Johnathan se vrou, Nadine, het intussen ’n video op Facebook gedeel waarin sy herinneringe aan hul spesiale oomblikke ophaal. Sy sê daarin dat sy saam met hom enigiets kon doen en sy het hom stees nodig. 

“Jy het nie baie geduld met sekere dinge gehad nie, en motiveringstoesprake was nie jy nie. Maar jy was alles wat ek nodig gehad het,” sê sy.

Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.