Central SA
Chubby Chick-skietvoorval: Oorlewende broer steeds onder verdowing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 18:42 Tue, 18 Nov 2025
’n Man van Potchefstroom wat die noodlottige skietery op hom en sy broer oorleef het, is steeds onder verdowing.
Deon Fourie, mededirekteur van Chubby Chick in Potchefstroom, se sedasie sal na verwagting vandeesweek geleidelik verminder word. Robert Joubert (73) het Fourie en dié se broer, Johnathan, na bewering Maandag 10 November meermale geskiet op die Chubby Chick-perseel op ’n vergadering oor ’n eiendomstransaksie.
Joubert het die perseel ná gesprekke met die broers verlaat, maar ongeveer ’n halfuur later teruggekeer. “Deon was steeds in die raadsaal toe die man die gebou weer binnegaan en hom (na bewering) verskeie kere geskiet het. Ten spyte van sy beserings het Deon daarin geslaag om hulp te ontbied,” sê die hoendermaatskappy in ’n verklaring.
Johnathan, Chubby Chick se direkteur, het onmiddellik gereageer en die raadsaal binnegegaan, waar hy ook meermale geskiet is. Hy is op die toneel dood verklaar. Veiligheidswagte het oomblikke later opgedaag, wat tot ’n oor-en-weer-skietery gelei het.

Johnathan Fourie en sy vrou, Nadine. Foto: Facebook
Joubert word onder polisiebewaking in die Potchefstroom- provinsiale hospitaal behandel, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
Volgens ’n familievriend, Basil Kletz, het Deon se infeksievlakke teen Maandag (17/11) aansienlik verbeter en is dit nou normaal. “Dokters berei voor om die dreineringsbuis uit sy long te verwyder, en die frekwensie van sy dialise sal vermeerder word, ’n positiewe teken dat sy bloeddruk genoegsaam gestabiliseer het om die hoër tempo te hanteer.”
Deon is op die dag van die aanval per helikopter na ’n Gautengse hospitaal geneem vir ’n noodoperasie en het Donderdag ’n tweede prosedure ondergaan. “Die operasie was suksesvol,” sê John-Henré Engels, waarnemende bestuurder van Chubby Chick.

Robert Joubert word steeds onder polisiebewaking in die Potchefstroomse staatshospitaal behandel. Foto: X
Joubert se saak is verlede week in die Potchefstroomse landdroshof aangemeld, waar dit in sy afwesigheid voortgegaan het.
“Gegewe die erns van sy beserings, lyk dit onwaarskynlik dat Joubert Woensdag (19/11) self die verrigtinge sal kan bywoon.”
Chubby Chick benadruk Joubert het geen amptelike verbintenis met die maatskappy nie en is ook nie ’n huidige of voormalige werknemer of kontrakteur is nie.
Die maatskappy se bedrywighede gaan ononderbroke voort en berading word aan werknemers gebied. Engels vra die publiek en media moenie gerugte of onbevestigde inligting versprei nie.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

