Central SA
Verhoor begin in Januarie oor ongeluk wat drie kinders eis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:33 Tue, 02 Dec 2025
Die saak van ’n jong man, wat aangekla word in verband met ’n ongeluk wat die lewens geëis het van drie kinders, is uitgestel tot 21 Januarie sodat die verdediging die dossier kan nagaan.
Tristan Kearney (20) het Dinsdag (2/12) vir die eerste keer in die Bloemfonteinse landdroshof voorgekom. Hy staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, die verontagsaming van ’n padverkeersteken en die oortreding van verkeersreëls rakende die getal toegelate passasiers.
Ryan Smit (6) en sy niggie Leané van Papendorp (8) is op slag dood in die ongeluk op 23 Januarie op die kruising van die N8 en Krugerlaan naby Aljo se Superspar. Ryan se boetie, Ayden (8), het later in die hospitaal gesterf.

Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, in die ongeluk verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
Adv. Allen Simpson, Kearney se regsverteenwoordiger, het uitstel versoek om die inligting in die dossier na te gaan. Hy meen die staat se deskundigeverslag dui daarop albei bestuurders kan aanspreeklik gehou word.
Adri Jonck, Leané se ma, het die Chevrolet Spark bestuur wat ook in die botsing betrokke was.
Sy het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem, maar is dieselfde dag ontslaan. Simpson sê dit is vreemd dat Jonck nie ook vervolg word nie.

Tennique Joubert is ná 19 dae in die hospitaal ontslaan. Foto: Cornelius Berry
Die hof was stampvol familie en vriende van Kearney, wat gespanne voorgekom het voordat die verrigtinge begin het.
Martin Smit, die boeties se pa, het Dinsdag gesê hy was woedend en diep ontevrede omdat hy nie in kennis gestel is dat die hofdatum verskuif is nie.
Die verhoor sou Woensdag begin het, maar is uitgestel omdat Kearney se regsverteenwoordiger nie beskikbaar is nie.

Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charne van der Merwe
Leané se pa, Herman, en sy vriendin was ook in die hof. “Dis moeilik. Elke dag is moeilik. Ons neem dit net stap vir stap,” het Herman buite die hof gesê.
Simpson sê Tristan is ’n jong man met sy hele lewe voor hom. “Hy verdien ’n regverdige verhoor sodat die volle waarheid na vore kan kom, veral omdat tot in hierdie stadium slegs die polisie se weergawe in die media aangebied is.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van de Merwe cvs

