On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Roudiens vir Mangaung-raadslid van byna twee dekades

───   KEKELETSO MOSEBETSI 08:11 Thu, 04 Dec 2025

Roudiens vir Mangaung-raadslid van byna twee dekades | News Article
Die DA-raadslid Dalena Dennis is Sondag oorlede. Foto verskaf

Afskeid word Vrydag (5 Desember) op ’n roudiens geneem van ’n DA-raadslid in Mangaung wat die naweek oorlede is.

Dalena Dennis (72) is Sondag oorlede. Haar dood bring ’n einde aan ’n dienstydperk as raadslid van byna twee dekades waarin sy, volgens haar party, ’n onuitwisbare invloed op gemeenskappe dwarsoor Mangaung gehad het. 

Dennis is vir die eerste keer op 1 Maart 2002 as wyksraadslid verkies. Sy het Gardeniapark, Wilgehof en die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat vir twee termyne verteenwoordig voordat sy as proporsionele raadslid aangewys is. 


Sy word waarskynlik beskou as die metro se langsdienende sittende raadslid, sê Werner Horn, DA-LP en die party se provinsiale voorsitter.

Voor die verkryging van metro-status in 2011 was Dennis die DA se koukusleier in die voormalige Motheo-distriksmunisipaliteit. Haar invloed het egter veel verder gestrek as net plaaslik; sy was ook die ondervoorsitter van die DA in die Vrystaat en het tot op die dag van haar dood gedien as hoofsweep van die DA-koukus in die Mangaung-stadsraad.

“Benewens haar politieke loopbaan was Dalena diep gewortel in haar gemeenskap. Sy het getrou gedien as hoofdiaken van die NG kerk Hospitaalpark, waar sy geliefd en gerespekteer was vir haar omgee en toewyding.” 


“Dalena sal onthou word vir haar ywer, lojaliteit, vriendskap en sterk leierskap. Haar verlies word diep ervaar, nie net in die organisasie nie, maar ook in die gemeenskappe wat sy vir byna twee dekades gedien het.”

Die DA in die Vrystaat het ook hulde gebring aan haar man, Peter, as getroue ondersteuner deur haar jarelange loopbaan in openbare diens.

“Ons dra ook ons opregte medelye oor aan haar seuns, Abrie en Herholdt, en haar kleinkinders. Ons wens hulle sterkte, vertroosting en vrede toe in hierdie tyd van intense smart.”

Die roudiens vind Vrydag om 12:00 in die NG Gemeente Hospitaalpark plaas en sal deur ds. Gerber Roux gelei word. 

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM News/Kekeletso Mosebetsi

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.