On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Sorgoord-aanranding: Ses terug in Welkom-hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:30 Mon, 08 Dec 2025

Sorgoord-aanranding: Ses terug in Welkom-hof | News Article
Anna Fourie en Lynette Brummer in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die verhoor van die ses mense, wat beskuldig word van die aanranding van ’n 81-jarige vrou in ’n versorgingsoord in Welkom, begin na verwagting Dinsdag (8/12) in die plaaslike streekhof.

Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) word aangekla ná die aanranding van Bettie Payne. Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, aanranding met die opset om ernstig te beseer en die oortreding van Artikel 13 van die Wet op Ouer Persone.

Brummer, wat ’n senior amp by die Silver Village-versorgingsoord beklee het en ’n aandeelhouer was, word as die hoofbeskuldigde beskou, het ao. Anja Tait, die ondersoekbeampte, tydens ’n vorige hofverskyning getuig.

Brummer is op borgtog van R5 000 vrygelaat onder streng voorwaardes. Sy moet minstens 100 m van die instelling af bly en moes haar paspoort binne ses uur ná haar vrylating inhandig. Die vyf ander beskuldigdes is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Bettie Payne en haar dogter Mariana. Foto verskaf

’n Bron, wat naamloos wil bly, het Vrydag aan OFM Nuus gesê minstens 40 video-opnames maak blykbaar deel uit van die bewysstukke teen die beskuldigdes.

Een van hierdie opnames, wat na bewering die aanranding vasgevang het, word as ’n kritieke bewysstuk beskou. Dit wys glo hoe Brummer pille in Payne se mond dwing, in haar gesig blaas, haar neus knyp en op haar spoeg nadat sy geweier het om haar medikasie te neem.

Toe Payne skree, het Brummer na bewering met kleefband teruggekeer en dit om die bejaarde vrou se mond en kop gedraai.

Tait het getuig die video is opgeneem deur ’n sigbare kamera wat in die kamer aangebring is en waarvan die personeel bewus was. Die beeldmateriaal is sedertdien aan ondersoekbeamptes oorhandig.

Puseletso Moloi, Ntswaki Mofolo, Nomsa Ngcongwane en Mapaseka Majorobella in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Fourie, Majorobella, Ngcongwane, Mofolo en Moloi word ook by optrede betrek. Fourie het na bewering die kamer met ’n foon binnegekom terwyl Payne om hulp geskree het, en twee personeellede het na bewering toegekyk sonder om in te gryp.

Brummer word voorts daarvan beskuldig sy het Payne met ’n kombers toegemaak, vir haar gesê niemand sou haar hoor nie, die ligte afgeskakel en die kamer verlaat.

Ná die voorval het Fourie bedank, terwyl die ander personeellede ná tugverhore ontslaan is.

“Sedert die nuwe bestuur oorgeneem het, het dinge drasties verander – op ’n goeie manier. Die mense daar sorg nou baie goed vir hulle. My ma se toestand het baie verbeter,” het Mariana vroeër gesê.

Die verdediging het die staat voorheen daarvan beskuldig hy vertraag die verrigtinge vertraag. Die wettigheid van die inhegtenisnemings is bevraagteken, sowel as die geloofwaardigheid van Tait se beëdigde verklaring, wat sterk op die videobeeldmateriaal staatmaak.

Tait het later na die versorgingsoord teruggekeer om werkrekords vir alle personeellede te bekom, maar dokumentasie met betrekking tot Brummer word na bewering vermis.

Die borgtogvoorwaardes van die ses verdagtes is op 7 November verleng.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.