Central SA
Bejaarde boer: Saak moontlik van rol verwyder indien staat nie besluit maak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:33 Wed, 10 Dec 2025
As die staat nie ’n finale besluit kan neem oor hoe om voort te gaan met die saak teen ’n bejaarde boer van Brandfort nie, sal dit van die rol geskrap word.
Dit was Woensdag (10/12) tydens ’n vlugtige verskyning deur Carl Christian Gutter (78) die plaaslike landdros se beslissing ná ’n versoek deur adv. Allen Simpson, sy regsverteenwoordiger. Die saak sloer reeds maande lank.
Landdros Rasheed Matthews het gesê om die saak behoorlik te hanteer, stel hy dit nogmaals uit, maar as die staat met Gutter se verskyning op 5 Mei steeds nie ’n besluit kan neem nie, word die saak van die rol geskraap. Tydens die hofverrigtinge het Gutter in Sotho die landdros meegedeel een van die aanvallers, wat bewapen was, is steeds op vrye voet en hy vrees vir sy lewe.

Carl Christian Gutter (78). Foto: Charne van der Merwe
Die bejaarde staan tereg op ’n nege jaar oue moordklag nadat hy Sonnyboy Segalo na bewering in Augustus 2016 op sy plaas, Palmietfontein, doodgeskiet het. Hy het op 2 Oktober ook vlugtig voorgekom, toe die saak uitgestel is om die verdedigingspan kans te gun om verdere voorleggings te maak.
Simpson het voorheen bevestig hulle wag steeds op ’n antwoord van die nasionale direkteur van openbare vervolging oor hul versoek dat die aanklagte teruggetrek word. Tydens die laaste hofverskyning het die staat gesê hy is van voorneme om met die vervolging voort te gaan en verskeie redes daarvoor aangevoer.
“Die voorlegging namens Gutter is oorweeg, maar onvoldoende gevind om die oorspronklike besluit om te vervolg, ter syde te stel. Dit is geneem op 6 Mei ná ’n geregtelike doodsondersoek,” sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder.
Die bevindinge in die geregtelike doodsondersoek is noukeurig hersien saam met die beskikbare bewyse en breër omstandighede, wat gelei het tot die gevolgtrekking dat vervolging moet voortgaan, sê hy.
Gutter is borgtog van R2 000 toegestaan ná sy inhegtenisneming op 21 Mei. Hy het agt dae later na die hof teruggekeer, toe die verdediging ’n uitstel versoek het om verdere vertoë in te dien.
Luidens polisieverslae is die polisie op 29 Augustus 2016 na Gutter se plaas ontbied ná bewerings van ’n poging tot plaasaanval. Met hul aankoms het hulle vier verdagtes gevind wat deur plaaslike boere en plaaswerkers aangehou word.
Sergalo en drie medepligtiges
Onder hulle was Segalo, wat gevind is met sy gesig na onder met ’n skietwond in sy rug, het Mohobeleli vroeër gesê. “Twee vuurwapens is op die toneel gekonfiskeer vir ballistiese toetse.”
Segalo en die drie vermeende medepligtiges is aanvanklik aangekla van poging tot roof. Die drie medebeskuldigdes is intusssen vrygespreek.
Segalo het aan sy beserings beswyk.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


