On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Plaasmeisie van Karoo se wanhoop oor droogte word treffende lied

───   14:15 Wed, 10 Dec 2025

Plaasmeisie van Karoo se wanhoop oor droogte word treffende lied | News Article
Christina le Roux (links) is dol oor perde. By haar is haar sussie, Alet. Foto verskaf

“Die ou Karoo waarin ons woon, wat ek liefhet, het maar baie dae dinge wat ons bangmaak.”

Die onsekerheid en wanhoop wat voortspruit uit die angel van droogte. Dít is wat Christina le Roux (14), van die plaas Kranskop, geïnspireer het om ’n lied, “Geel skoeter”, te skryf wat tallose harte aanraak.

Christina woon saam met haar ouers, Riaan en Gerda, asook haar sussie, Alet (10), tussen Williston en Calvinia. Dis ’n droë wêreld, een waar mens en dier van blydskap dans onder elke skaars millimeter reën.

Hoorbaar trots vertel Christina van haar pa se dorperstoet en van sy ram wat onlangs vir R32 000 op die nasionale veiling op Vredendal verkoop is. 

Dit is egter dieselfde jong meisie wat met die wysheid van ’n grootmens geen doekies omdraai nie wanneer sy skryf oor die uitwerking van die droogte op liggaam sowel as siel:

Daar’s geen geld om nuwe skoene te koop
Dalk vir brood.
Die diere is maer met die bene wat daar uitsteek.
Die grond en stof is in my ingeprint.
Die groen brand my oë as ek dit sien.

Chris van Biljon, wat ’n organisasie sonder winsoogmerk begin het om boere by te staan met droogtehulp, was diep geraak toe hy die woorde van die lied onder oë kry.

Die onsekerheid en wanhoop wat die droogte bring het Christina le Roux (14), van die plaas Kranskop, geïnspireer om die lied ‘Geel skoeter’ te skryf. Foto verskaf

“Hopelik is dié week beter as die afgelope twee. Ons begin definitief beter …” is die wens waarmee Bring Hoop menige week aandurf, vertel Van Biljon. Dit is wanneer kos, voer en lewensmiddele aangery word na plase waar boere en hul gesin in nood verkeer.

“Die kinders wat in hierdie moeilike omstandighede grootword, se verlies en vrees word dikwels nie raakgesien nie. Luukshede bestaan nie.

“Hulle kan nie sorgeloos soos ander kinders deelneem aan sport, partytjies en gewone skoolbedrywighede nie. Hulle woon afgesonder op die plaas en ontvang tuisonderrig omdat die afstand na die naaste dorp gewoon te ver is.”


Daarom, sê Chris, het hy dadelik die betekenis van hierdie lied van Christina gesnap en dit uiteindelik getoonset. ’n Diep seer van verlies lê verskuil in lirieke soos dié:

Wat sal jy doen
As jy ’n brief op die tafel sien?
Dalk sal jy dit net so los.
Of jy sal dit oopmaak.

Gee die geweer vir die kind.
In die hoekie langs die kas.
Die geel skoeter is oorkant die straat
Met sy papwiele en sy stukkende masjien.
Daar’s geen plek om te draai nie.

Christina vertel die geel bromponie het behoort aan haar peetpa, wat vroeër vanjaar oorlede is.

Dis egter nie slegs wanhoop en moedeloosheid wat uit die gesprek met dié besondere jong mens vloei nie. In ’n sorgsame ouerhuis loop dankbaarheid, hoop en drome ook die gange vol. Van haar diep liefde vir diere, veral vir haar perde, Irus en Khalisee, maak sy geen geheim nie.

Christina (links agter), haar ouers, Riaan en Gerda, en haar sussie, Alet, boer tussen Williston en Calvinia. Foto verskaf

Aan haar drome haak sy vlerke vas: “Perde sal altyd deel uitmaak van my toekoms. Ook wil ek studeer in argeologie en later meer leer van die geskiedenis van mens sowel as dier.”

Sal sy aanhou skryf? Ja, altyd, vertel sy. 

Oor alles, ook oor hoop, want dié 14-jarige se boodskap van hoop strek op reeds so ’n jong ouderdom wyd, van die Karoo, dwarsoor die Vrystaatvlaktes tot op elke plaas in hierdie land: “Ons hoop lê in die Hemelse Vader.

“Ons kan slegs in Hom ons vertroue stel.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Elsabé de Jager cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.