On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Babaseuntjie onder boom langs Theunissen-pad gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:20 Sat, 13 Dec 2025

Babaseuntjie onder boom langs Theunissen-pad gevind | News Article
Die baba ontvang nou goeie mediese sorg. Foto verskaf

Die polisie ondersoek ’n saak van kinderverlating nadat ’n pasgebore babaseuntjie Vrydag (12/12) onder ’n boom langs die pad naby ’n gewilde stapplek by Theunissen gevind is.

’n Man en sy neef is glo omstreeks 15:00 deur ’n verbyganger ingelig oor die baba wat onder ’n boom langs die R30 naby Theunissen lê. Die baba het roomkleurige babaklere en ’n grys babahoed aangehad.

Hy was toegedraai in ’n grys kombers met wit kolletjies, sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die twee mans het onmiddellik ondersoek ingestel en die seuntjie, wat skynbaar net ’n paar dae oud is, onder hul vleuels geneem. Hulle het die baba na hul huis gebring en onmiddellik die Theunissen-polisie sowel as die mediese nooddiens in kennis gestel.”

‘Die polisie prys die twee mans asook die die onbekende informant vir hul vinnige en deernisvolle reaksie’

Die nooddiens het vinnig gereageer en die babaseuntjie na ’n plaaslike hospitaal gebring, waar hy vir mediese waarneming en sorg opgeneem is. “Die baba ontvang die nodige mediese aandag,” sê Kareli. ’n Dossier van kinderverlating is sedertdien deur die Theunissen-polisie aangelê.

“Die polisie prys die twee mans asook die die onbekende informant vir hul vinnige en deernisvolle reaksie, wat die baba se veiligheid verseker het en waarskynlik sy lewe gered het,” sê Kareli.

Kareli sê die polisie vra mense met inligting wat kan help om die moeder of familielede van die kind te identifiseer of op te spoor, om na vore te kom. 

Hulle kan speurkapt. Jerry Motaung van die Brandfort-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings kontak by 071 682 5093, of Stopmisdaad by 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan ook gestuur word via die MySaps-app.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.