Central SA
‘Al raad dalk om haglike Parys-museum se inhoud te verskuif’─── SUSAN MARÉ 06:00 Mon, 15 Dec 2025
Parys se museum is reeds jare in ’n oorlewingstryd gewikkel. Nou blyk dit al raad kan dalk wees om die inhoud uit die vervalle geskiedkundige gebou te verskuif.
Nes talle ander dorpsmuseums landwyd kry die toerismedorp aan die Vaalrivier s’n geen of min ondersteuning van die provinsie. Geldnood, die verval van geboue en vandalisering is van die redes waarom dit in ’n bestaanstryd gewikkel is.
Die instelling in Liebenbergstraat was voorheen onder die bestuur van die Vrystaatse museumdiens. Soos die meeste museums het dit agteruitgegaan en is dit mettertyd gesluit. In 2010 is dit heropen, danksy gemeenskapsbetrokkenheid.
Deesdae neem vrywilligers soos inwoners Horst Müller en Werda Visser die leiding. Müller vertel benewens hul geldnood is die gebou vervalle. Die museum word gehuisves in ’n gebou van 1904 wat op sy dag die landdroskantoor was.

Die terrein van die Parys-museum is besaai met rommel. Foto verskaf
Die FAK se kultuurnetwerk het die museum verlede jaar besoek en besluit ’n goeie skoonmaak en opknappingswerk is nodig. Onder leiding van Jan-Danie Malan, voorheen die FAK se kultuurkoördineerder in die Vrystaat wat nou as kultuuraktivis en liefhebber van geskiedenis betrokke is, is begin met klein take soos skoonmaak en die opknapping van ’n pioniersuitstalling.
Die museum is met die jare gevandaliseer terwyl haweloses graag in die erf gebly of oornag het. Die gemeenskap het verlede jaar hul hart oopgemaak om die museumerfenis met sy ryk geskiedenis te help red. Danksy hulp en skenkings van Parysenaars kon die museum omhein word en ’n sluitbare toegangshek aangebring word.
Die gebou is in 1983 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar, maar dit beteken nie die owerheid hou dit in stand nie.
Die museum het waardevolle versamelings foto’s, dokumente, artefakte en uitstallings wat die geskiedenis van die dorp uitbeeld, vertel Müller. “Een van die uitstallings van waarde is Parys se nywerheidsgeskiedenis met bekende name in die sakegeskiedenis van die dorp soos Arwa, Vetsak, Metro Clothing Company en Parys Basket Company.
“Die gebou en terrein het egter dringend aandag nodig. Ek sien nie uitkoms nie, maar daar is ’n gedagte dat die museum dalk elders hervestig moet word. Dit is al praktiese plan wat ek voorsien.”
Malan vertel die museumgebou het wesenlike skade aan die dak, waterskade aan die mure en vele ander probleme.
LEES OOK: Ingryping geëis in erg vervalle Parys-museum
“My voorstel sal wees dat die museum tydelik geskuif word.
“Die Parys Info-gebou oorkant die polisiekantoor kan van die waardevolle artefakte uitstal terwyl die res na Rivierplaas van die FAK buite die dorp vir bewaring geskuif kan word.
“Die museumgebou is munisipale eiendom, en wie weet, dalk kan die museum eendag weer daar gevestig word. Op die oomblik stink dit daar van muf en word daar minstens ’n paar keer per jaar ingebreek. Verskuiwing is nie noodwendig die oplossing nie, maar wat anders?”

Die vervalle gebou was oorspronklik die landdroskantoor. Foto verskaf
Intussen floreer Parys as toerismebestemming en veral as poort na die nabygeleë beroede Vredefortkoepel, wat in 2005 deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar is. Die koepel is die grootste slagkrater op aarde.
Parys, sowel as Vredefort 30 km verder, is op die kratervloer geleë.
Ondanks die vervalle museumgebou is Parys aan die Vaalrivier vol sjarme. Danksy die natuurskoon, antiekwinkels, ou geboue en eetplekke lok die dorp jaarliks derduisende besoekers.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

