On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Blouligrowers loop hul vas op Parys – polisie waarsku

───   10:42 Mon, 15 Dec 2025

Blouligrowers loop hul vas op Parys – polisie waarsku | News Article
Die rowers het polisie-uniforms by hulle in die voertuig gehad. Foto: SAPD

Die polisie waarsku die publiek om nie sonder meer gehoor te gee aan mense in voertuie met blou ligte nie nadat twee vermeende blouligrowers die naweek op Parys doodgeskiet is.

In wat beskou word as ’n deurbraak in die polisie se stryd teen blouligrowers wat verskeie rooftogte tussen Gauteng en die Vrystaat uitgevoer het, is die vermeende rowers Sondag (14/12) doodgeskiet in ’n skietgeveg met die polisie in die Noord-Vrystaat. ’n Multidissiplinêre span het op inligting gereageer oor ’n Volkswagen Golf 7, wat met dié rooftogte verbind word, sê kol. Dimakatso Nevhuhulwi, Gautengse polisiewoordvoerder.

Die voertuig met blouligte is op die R59 gewaar, en lede van die span het hulle voorgelê. Toe beamptes probeer om die Golf voor te keer, het die bestuurder weggejaag, sê Nevhuhulwi. 

’n Jaagtog het gevolg met die polisie op die spoor van die verdagtes terwyl oor-en-weer geskiet is.

’n Pistool wat in die verdagtes se voertuig gevind is. Foto: SAPD

Die bestuurder het later in die Parys-omgewing beheer oor die verdagtes se voertuig verloor en teen ’n heining gebots. Twee mans, geklee in polisie-uniforms, is dood in die motor aangetref. 

Beamptes het twee ongelisensieerde vuurwapens met ammunisie, polisie-uniforms en –pette met kentekens, blou ligte, sirenes en vals registrasieplate in die voertuig gevind.

Voorlopige ondersoeke wys die verdagtes was betrokke by verskeie blouligrooftogte op die R59 en ander paaie tussen Gauteng en die Vrystaat. Die verdagtes het hulle as wetstoepassers voorgedoen, motoriste gekaap en hulle ’n paar uur lank aangehou terwyl hulle gedwing is om geld uit hul bankrekeninge te trek. 

’n Rewolwer is in die verdagtes se voertuig gekry. Foto: SAPD

Die polisie wil strenger optree om blouligrooftogte en ander geweldsmisdade hok te slaan, sê Nevhuhulwi. “Moenie in afgeleë gebiede stilhou vir voertuie wat blou ligte vertoon nie,” voeg sy by. “Indien ’n verdagte voertuig jou nader, ry reguit na die naaste polisiekantoor of vulstasie.”

Lede van die taktiesereaksiespan, lugvleuel, opsporingspan, teenintelligensie, sowel as privaat sekerheidsmaatskappye het aan die operasie deelgeneem. 

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.