Central SA
Van Aardt-moord: Beskuldiges gaan moontlik aansoek doen om borgtog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:03 Tue, 16 Dec 2025
Die drie beskuldigdes in die moord op ’n afgetrede Vrystaatse onderwyseres sal na verwagting weer Vrydag (19/12) in die hof verskyn vir ’n moontlike borgtogaansoek.
Ndiyabulela Vayi, Thando Nkolongo en Yamnkela Mdunyelwa het Maandag (15/12) in die Bishop Lavis-landdroshof in Kaapstad verskyn in verband met die moord op Karin van Aardt (64). Hulle staan tereg op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede, sê kol.André Traut, Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder.
Vredenburg
Van Aardt en haar man, Herman, wat in Mbombela woon, het vanaf Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe na Kaapstad gevlieg om hul kleinkind se verjaardagpartytjie op Vredenburg by te woon.
Dit is ongeveer 150 km vanaf Kaapstad. Nadat hulle ’n huurvoertuig gekry het, het hul GPS hulle langs die N2 en na Jakes Gerwel-rylaan in Langa gelei.
Terwyl hulle in by die verkeerslig op die hoek van Jakkalsvleilaan en Jakes Gerwelrylaan in Bonteheuwel gewag het, is die ruit aan Karin se kant stukkend geslaan om haar handsak te steel. Sy is verskeie kere in die bors gesteek.

Karin en haar man, Herman. Foto verskaf
Die drie mans is onderskeidelik Woensdag (10/12) en Donderdag (11/12) in hegtenis geneem.
Karin het in 2018 as gr. 3-onderwyseres aan die Primêre Skool Universitas (Tjokkies) afgetree.
Die VF Plus het die jongste aanval op die N2 naby die Borcherds-steengroef-afrit in Kaapstad veroordeel, waar ’n ma en haar seun (11) Saterdag (13/12) geteiken is. Die konstruksie van ’n muur langs die snelweg moet gepaardgaan met sigbare en volgehoue polisiëring, sê Emre Uygun, VF Plus-raadslid.
Pap band
“Die jong seun het om hulp geskree nadat die gesin se voertuig ’n pap band opgedoen het, wat hulle gedwing het om langs die N2 te stop. Die ma en seun was ook slagoffers van ’n diefstal.
“ ’n Saaknommer is verkry en die besonderhede is aan die Kaapstad-metro se veiligheids- en sekuriteitsleierskap gestuur om met die ondersoek te help.”
Whitney Okkers Solomon, ’n familielid, sê verskeie besittings is tydens die voorval gesteel. “My neef moes hardloop om hulp te kry. Niemand is fisiek beseer nie, maar hy (die seun) is erg getraumatiseerd.”

Emre Uygun, VF Plus-raadslid. Foto: VF Plus
Uygun sê hierdie gedeelte van die N2 het ’n berugte brandpunt vir rooftogte en aanrandings geword. “Ten spyte van maandelikse waarskuwings wat deur die VF Plus uitgereik word duur die aanvalle voort. Ons doen ’n beroep op permanente gewapende patrollies om op hierdie plek ontplooi te word.”
Die VF Plus doen ’n beroep op alle motoriste wat op die N2 of R300 aangeval word om die voorvalle onmiddellik by die polisie aan te meld. Slagoffers kan sake by die naaste polisieskantoor aanhangig maak en vra dat die saak oorgeplaas word na die polisiekantoor waar die voorval plaasgevind het.
Muur langs N2
“Hoewel die VF Plus die Kaapstad-metro se besluit verwelkom het om ’n muur langs dele van die N2 te bou is hierdie maatreël alleen nie ’n volhoubare langtermynoplossing nie.
“Misdadigers sal binnekort maniere vind om die muur te omseil en sonder sterk wetstoepassing bly motoriste kwesbaar.”

Karin van Aardt. Foto: Facebook/Primêre Skool Universitas - Tjokkies
Die enigste effektiewe manier om die N2 te beveilig is deur volgehoue en sigbare polisiëring en sekuriteitskameras.
Die party het die metro, Sanral en die nasionale regering versoek om dringend praktiese ingrypings te prioritiseer. Dit sluit in die herstel van beskadigde heinings, die heraktivering van foutiewe kameras, die permanente plasing van gewapende patrollies by ses geïdentifiseerde hoërisiko-voetgangerbrûe, en die integrasie van intydse voorval rapportering deur die iTRAFFIC-app.
Die VF Plus sê hulle sal voortgaan om druk uit te oefen om te verseker belastingbetalers se geld word verantwoordelik gebruik en misdaad op die N2 word effektief en volhoubaar bekamp.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

