Central SA
17-jarige meisie, 2 mans van Noordwes vas oor kaping van Botswana-vrou─── 09:08 Wed, 17 Dec 2025
Drie verdagtes, waaronder 'n meisie (17) verskyn na verwagting môre (Donderdag 18 Desember) in die Mmabatho-landdroshof op aanklagte wat verband hou met kaping, roof, ontvoering en die besit van gesteelde eiendom.
Kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die minderjarige meisie sal ingevolge die Wet op Kindergeregtigheid hanteer word.
Die drie verdagtes is Maandag in Potchefstroom vasgetrek, ure nadat hulle 'n vrou (65) van Botswana glo gekaap en na bewering haar gedwing het om geld uit haar bankrekening te onttrek.
“Die voorval het Maandag omstreeks 10:00 gebeur toe die vrou op die pad tussen Nooitgedacht en Mooifontein, naby Mahikeng, in haar Toyota Yaris gery het. Sy is na bewering deur drie verdagtes in 'n wit voertuig voorgekeer nadat hulle die pad versper en haar gedwing het om stil te hou.

Die polisie het beslag gelê op verskeie selfone, 'n vuurwapen en 'n mes. Foto: SAPD/Facebook
“Die verdagtes het haar na bewering 'n vuurwapen op haar gerig en haar met 'n mes gedreig. Sy is gedwing om in hul voertuig te klim. Sy is daarna na Itsoseng en Mahikeng geneem, waar sy na verskeie outomatiese tellermasjiene geneem en gedwing is om geld uit haar bankrekening te onttrek.
“Haar selfone is ook gesteel. Ná die onttrekkings is sy in Mahikeng agtergelaat.”
Danksy ‘n gekoördineerde poging deur die polisie se afdelings vir misdaadintelligensie, blitspatrollie en dwelmtaakspan, sowel as verskeie private veiligheidsmaatskappye is die verdagtes vasgetrek.
Die provinsiale Polisiekommissaris van Noordwes, genl. maj. Ryno Naidoo, het die vinnige en effektiewe samewerking tussen die verskillende polisie-eenhede en private veiligheidsmaatskappye geprys en sê sulke spanwerk is krities bly in die bekamping van ernstige en geweldsmisdaad.
OFM Nuus cvdw
