Central SA
Boikie hardloop met sy kruiwa tot in die Kaap, bring hoop vir kinders─── 10:53 Wed, 17 Dec 2025
“Ek is ’n mannetjie met ’n kruiwa en my smile kom elke dag eerste!”
Só stel Boikie Monareng, stigter en uitvoerende direkteur van die Run Boikie Run-sportsontwikkelingstrust homself voor ná hy die halfpadmerk van sy moordende 1 921 km lange tog te voet van Musina in Limpopo na Kaapstad bereik het.
Monareng het afgelope naweek op Colesberg aangekom. Nog 29 dae van hardloop, ongeveer 50 km per dag, lê voor hom uitgestrek. Hy hardloop nie net om nuwe skoene en klere vir die kinderhuiskinders op Bela Bela in te samel nie; hy wil mense ook opnuut bewus maak van boeliegedrag, ’n toenemende euwel van ons tyd.
'Ek is oor my gehoorapparaat gespot. Ook oor my verslete skoolklere.'
Die 44-jarige het kleintyd op Bela Bela (toe nog Warmbad) onder die ongenaakbare klappe van boelies deurgeloop. “Hulle het my kosblik gevat; ek was altyd op my eie by die skool want ek het ’n gehoorprobleem gehad. Ek is altyd oor my gehoorapparaat gespot. Ook oor my verslete skoolklere.”
Hy aarsel vir ’n oomblik, maar vertel dan tog van die onderwyseres wat hom, kwalik sewe jaar oud, in die klaskamer toegesluit het voor ’n skooluitstappie na Pretoria se dieretuin. “Ek was so opgewonde, my busgeld was betaal. Tog het sy gevoel die dowe kind sou net ’n las wees. Eers teen skemertyd daardie aand, ná die kinders se terugkeer, is ek ‘vrygelaat’.”
Dié vriendelike sportman het egter vroeg in sy lewe besluit om nie van sy probleme af weg te hardloop nie, maar na ’n oplossing toe - nie net vir homself nie, maar ook vir ander in dieselfde bootjie as hy.
Op 14 beland hy in die bekwame hande van twee internasionale dokters, en ondergaan hy ’n geslaagde operasie wat sy gehoor aansienlik verbeter. “Van my beste lewensjare was toe ek na die Sonitusskool vir Hardhorendes in Pretoria gestuur is,” vertel hy. “Ek het daar die geleentheid gekry om aan elke sportsoort denkbaar deel te neem en is ek ook as skoolleier aangewys.”
Ná tien suksesvolle jare as sportkoördineerder in die Sondela-natuurreservaat in die omgewing van Bela Bela, besluit Monareng om hom heeltyds toe te wy aan sy welsynsorganisasie, die Run Boikie Run-trust.

Nog 29 dae van hardloop, ongeveer 50 km per dag, lê voor hom uitgestrek. Foto: Facebook
“Behalwe geldinsameling vir minderbevoorregtes, streef ek ook na dissipline, vasberadenheid en verantwoordelikheid onder kinders van alle ouderdomme. Dit hou hulle van die strate af en weg van dwelmmisbruik.”
Om die belangrikheid van goeie geestesgesondheid op Suid-Afrikaners se hart te druk, besluit hy verlede jaar om per fiets van die Moederstad na Musina te ry. Tydens daardie rit begin hy ’n geslaagde fondsinsamelingsveldtog om broodnodige behandeling en terapie binne bereik van vele minderbevoorregtes te bring.
Boeliery: 'Die pyn wat agterbly in jou siel, gaan nooit weg nie'
“ ’n Mens dink jy vergeet van die lelike dinge wat die boelies aan jou gedoen het, maar die pyn wat agterbly in jou siel, gaan nooit weg nie,” vertel hy.
Dié uithouer sien blykbaar kans vir enige uitdaging en vanjaar besluit hy om vanjaar dieselfde afstand in sy hardloopskoene aan te pak, dié keer wel in die teenoorgestelde rigting.

Monareng is dankbaar vir mede-hardlopers wat soos hier in die Vrystaat, vir kort afstande saam met hom hardloop. Foto: Verskaf
Menige vakansieganger het reeds die laaste tyd verby dié vriendelike drawwer met sy kruiwa gery. Geselsies word langs die pad aangeknoop, eet- en drinkgoed word aangegee, en mense wens hom voorspoed toe.
Hy is innig dankbaar vir elke donasie wat bydra tot ’n waardiger en gemakliker skooljaar vir die kinderhuiskinders van Bela Bela. “My droom is om 5 000 mense te kry wat elkeen net R20 bydra.”
'My droom is om 5 000 mense te kry wat elkeen net R20 bydra'
Hy lag alte lekker wanneer mense hom uitvra oor die kruiwa wat heelpad saam reis. “Ek het ’n droom gehad wat vir my gesê het ek moet ’n kruiwa saambring op my pad. Daarin lê die vyf paar ekstra skoene wat my tot in die Kaap moet bring. En ook altyd ’n paar sweeties om aan te kou!”
By hierdie merkwaardige man, wat reeds nege Comrades-, vier Twee Oseane-marathons en nege Ysterman-kompetisies voltooi het, is daar net nederigheid en dankbaarheid te bespeur. “Saans, wanneer ek by die gastehuis tot rus kom, sê ek dankie vir die Here dat Hy my spiere nie laat pyn nie. En ek sê ook dankie vir my ma, wat trots bly op my.”
