Central SA
Motoriste gewaarsku teen verkeersboete-slenter─── ZENANDE MPAME 11:13 Thu, 18 Dec 2025
Suid-Afrikaanse motoriste word gewaarsku oor ’n toename in bedrieglike verkeersboete-SMS’e wat landswyd gestuur word.
Fines SA, ’n platform vir die bestuur van verkeersboetes en voertuigadministrasie, merk ’n skerp toename op in navrae van verbruikers oor die wettigheid van boete-kennisgewings wat hulle ontvang het. Dié kennisgewings beweer dat motoriste uitstaande boetes het wat onmiddellik betaalbaar is.
Daar word beweer dat swendelaars oortuigende SMS- en WhatsApp-boodskappe stuur waarin beweer word dat motoriste uitstaande boetes het en onmiddellik moet betaal. Hierdie boodskappe skakel na gekloonde betalingsbladsye wat ontwerp is om amptelike platforms na te boots.
Fines SA doen ’n beroep op motoriste om ongevraagde boeteverwante boodskappe te ignoreer en hul boetestatus direk via veilige, geverifieerde platforms na te gaan. Die maatskappy sê hierdie eenvoudige stap kan finansiële verlies en onnodige stres voorkom in ’n tyd waarin bedrogstaktieke ál meer gesofistikeerd raak.
“Die boodskappe lyk oortuigend en is ontwerp om dringendheid en paniek te skep,” sê Barry Berman, Fines SA se uitvoerende hoof,. “Sodra iemand op ’n skakel klik en op ’n onveilige webtuiste betaal, is die geld weg en geen boete is vereffen nie.”
“Ons stuur nie boetekennisgewings per SMS nie. Motoriste moet altyd stilhou en onafhanklik verifieer voordat enige betaling gemaak word. ’n Belangrike rooi vlag is dat hierdie skakels gebruikers nie na www.finessa.co.za, Fines SA se enigste amptelike webtuiste, verwys nie."
Fines SA bied motoriste ’n veilige alternatief deur hulle in staat te stel om verkeersboetes via sy amptelike webtuiste en app na te gaan en te bestuur. Die platform konsolideer geverifieerde boetedata van sowat 250 munisipaliteite, wat meer as 90% van die owerhede in Suid-Afrika verteenwoordig wat boetes uitreik.

Swendelaars stuur oortuigende SMS’e soos hierdie een. Foto verskaf
Alle betalings word deur veilige kanale verwerk en direk na die betrokke munisipale rekeninge gestuur.Sodoende word die risiko, wat gepaard gaan met bedrieglike “boetebetalings”-webwerwe wat staatmaak op ongeverifieerde EFT-besonderhede of gekloonde betalingsbladsye, verminder
Intussen vra die polisie alle padgebruikers en inwoners om veiligheid voor oë te hou, verdagte bedrywighede aan te meld en ten volle met wetstoepassers saam te werk.
“Motoriste word aangeraai om by spoedbeperkings te hou,” sê Delishaso Xuma, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Ons raai motoriste aan om nie onder die invloed te bestuur nie en om hul eie veiligheid sowel as dié van hul passasiers te verseker.”
