Central SA
Ma wat baba langs pad los, dan in hof vir borg─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:46 Sat, 20 Dec 2025
Die Vrystaatse ma wat na bewering haar pasgebore babaseuntjie onder ’n boom langs die pad gelos het, sal op 23 Desember in die hof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.
Die vrou (25), wie se naam nog nie bekend gemaak mag word nie, het Maandag (15/12) vir die eerste keer in die Theunissen-landdroshof verskyn.
Sy is Saterdag (13/12) in hegtenis geneem nadat sy deur lede van die Brandfort-polisie opgespoor is. “Die ma van die verlate twee dae oue baba is in hegtenis geneem en aangekla van poging tot moord,” sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die inhegtenisneming volg op die ontdekking van die baba naby ’n staproete langs die R30 buite Theunissen op Vrydag (12/12) omstreeks 15:00.
'Twee mans het dadelik ondersoek ingestel en babaseuntjie gevind'
Volgens Kareli het ’n man en sy neef in die omgewing geloop toe hulle deur ’n verbyganger genader is wat hulle ingelig het oor ’n baba wat onder ’n boom lê.
“Die twee mans het dadelik ondersoek ingestel en ’n babaseuntjie gevind wat gelyk het of hy net ’n paar dae oud was. Swaar reën het nader gekom, en die baba was in ernstige gevaar.”
Volgens Kareli het die barmhartige Samaritane vinnig en met deernis opgetree. “Hulle het die baba vir veiligheid na hul huis geneem en onmiddellik die Theunissen-polisie en noodmediese dienste in kennis gestel.”
Moeder gevind
Noodmediese personeel het vinnig gereageer en die babaseuntjie na ’n plaaslike hospitaal vervoer, waar hy vir mediese waarneming en sorg opgeneem is. “Die baba is veilig en het die nodige mediese aandag ontvang,” sê Kareli.
Tydens ’n ondersoek wat deur die Brandfort-eenheid vir huishoudelike geweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings uitgevoer is, is die verdagte geïdentifiseer en in hegtenis geneem.
“Die vinnige en toegewyde werk van die ondersoekbeamptes het verseker dat die moeder opgespoor is,” sê Kareli.
“Die polisie prys die twee mans en die informant wat vinnig en menslik opgetree het om die baba se oorlewing te verseker.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

