On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse ongeluk eis sewe lewens, waaronder drie kinders

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:59 Sun, 21 Dec 2025

Vrystaatse ongeluk eis sewe lewens, waaronder drie kinders | News Article
Die ongelukstoneel. Foto: Facebook/ArriveAlive

'n Kop-aan-kop botsing tussen Heilbron en Bethlehem het Saterdag die lewens geëis van ses mense, insluitend drie kinders. 'n Sewende slagoffer is later in die hospitaal oorlede.

"’n Kop-aan-kop botsing tussen ’n Toyota Starlet en ’n Ford EcoSport het Saterdag (20/12) omstreeks 10:20 die lewe van ses mense geëis," sê die voorsitter van die Vrystaatse padvoorvalbestuurstelsels, Sipho Towa. 

“Drie volwassenes en drie kinders  is op die toneel dood verklaar.” OFM Nuus het Sondag verneem ’n sewende slagoffer is later in die hospitaal oorlede. 

'Drie volwassenes, drie kinders dood verklaar'

Volgens Towa is drie ander mense in die Ford EcoSport beseer. “Een is met kritieke beserings deur ’n Netcare-noodhelikopter na ’n Netcare-hospitaal in Alberton gehaas, terwyl die ander twee vir minder ernstige beserings behandel is.”

Hy sê van die slagoffers was na bewering in die wrak vasgekeer toe nooddienste op die toneel opgedaag het. “Wetstoepassing- en reddingspanne het vinnig gewerk om die toneel te beveilig en diegene wat geraak is, by te staan.”

Die ongeluk het verkeer op die R57 erg beïnvloed. Slegs een baan is vir verkeer oop gelaat totdat die toneel opgeruim is.

Een van die voertuie wat in die ongeluk betrokke was. Foto: Facebook/ArriveAlive

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend gemaak nie.

Owerhede het hul meegevoel betuig aan die families en geliefdes van diegene wat hul lewens in die tragiese voorval verloor het.

Motoriste word versoek om uiters versigtig te wees wanneer hulle op Vrystaatse paaie reis, veral gedurende spitsvakansietye, sê Towa.

“Gehoorsaam altyd spoedbeperkings, dra veiligheidsgordels en maak seker dat kinders behoorlik in goedgekeurde motorsitplekke vasgemaak is. Vermy om voertuie verby te gaan waar sigbaarheid swak is en handhaaf te alle tye ’n veilige volgafstand. Bestuurders moet nooit ’n selfoon gebruik terwyl hulle bestuur nie en moenie onder die invloed van alkohol of moegheid bestuur nie.”

Hy sê ook dis baie belangrik dat motoriste seker maak hulle voertuig is padwaardig is, met bande, remme en ligte in ’n goeie toestand voordat jy reis.

“Beplan russtoppe op lang reise en bly op die uitkyk vir veranderende pad- en weerstoestande.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

OFM Nuus/Charne van der Merwe 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.