Central SA
Polisie van Noordwes betrap verdagtes op Kersdag met dwelms─── 12:04 Sat, 27 Dec 2025
Vier verdagtes, waaronder 'n vrou, verskyn Maandag (29/12) in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane nadat die polisie hulle op Kersdag betrap het met dwelms, kontant en vermoedelik gesteelde goedere.
Dit volg ná die polisie 'n misdaadintelligensie-gedrewe operasie in Boitekong naby Rustenburg uitgevoer het.
Die polisie het verskeie dwelms, insluitend mandrax, dagga, kristalmet en rock met 'n geraamde straatwaarde van R15 000 gevind, sowel as R860 in kontant wat vermoedelik die opbrengs van misdaad is. 'n Vierde verdagte is in hegtenis geneem nadat hy in besit van vermoedelik gesteelde selfone gevind is.

Dwelms en vermoedelik gesteelde selfone waarop die polisie op beslag gelê het. Foto: Facebook/SAPD
Die vier verdagtes, tussen die ouderdomme van 37 en 52 jaar, sal na verwagting Maandag (29/12) in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane verskyn op aanklagte van die besit van dwelms en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Intussen het die polisie hul Shanela 2 Safer Festive Season-operasie van Vryburg na Schweizer-Reneke uitgebrei. Hier het die provinsiale dwelmtaakspan inligting van inwoners ontvang, 'n verdagte in hegtenis geneem en beslag gelê op dwelms en kontant.
Dié verdagte sal na verwagting ook Maandag (29/12) in die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn.
By 'n ander adres wat deursoek is, het verdagtes van die toneel gevlug en 'n hoeveelheid dwelms agtergelaat wat gekonfiskeer is.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM News cvdw

