Central SA
‘Kersvader’ (17) van Ladybrand vas oor dwelmlekkers─── 09:19 Mon, 29 Dec 2025
Welkom se polisie het Sondag (12/28) ’n tiener (17), wat soos Kersvader aangetrek was, in Ladybrand in hegtenis geneem toe dit blyk die “Kersfeeslekkergoed” waarmee hy handel dryf inderdaad dwelms was.
Polisiewoordvoerder lt.-kol. Thabo Covane sê die polisie het agterdogtig geraak toe die betrokke “Kersvader” se klante, wat die “lekkers” by hom gekoop het, nie kinders was nie, maar “twyfelagtige karakters”. Die Welkom teenbende-eenheid, wat ontplooi is om onder meer verspreiding van onwettige vuurwapens, dwelms en dwelmhandel te voorkom, het die “lekkergoed” ondersoek, waarna “Kersvader” weggehardloop het.
Hy is vinnig voorgekeer en 49 sakkies met tik van 16,75 g is in sy besit gevind.

Foto ter illustrasie. Foto: Facebook
Die polisie het ook beslag gelê op kontant in rand en loti, die geldeenheid van Lesotho, vermoedelik die opbrengs van dwelmverkope.
’n Saak van dwelmhandel is by die Ladybrand-polisiestasie geopen. Die verdagte is ingevolge die Wet op Kindergeregtigheid hanteer en in die sorg van ’n wettige voog vrygelaat.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

