Central SA
Noord-Kaap stel meer as 400 gesondheidswerkers aan─── 11:00 Mon, 29 Dec 2025
Die provinsiale departement van gesondheid in die Noord-Kaap het meer as 400 gemeenskapsgesondheidswerkers regoor die provinsie aangestel. Die departement is tans aan die gang met meer aanstellings.
SABC News berig dat gesondheidswerkers, wat help om personeeltekorte in hospitale en klinieke aan te vul, al vir jare betoog het vir permanente aanstellings. Hul pleidooi is uiteindelik aangehoor: die provinsiale tesourie het ’n begroting beskikbaar gestel om hierdie werkers aan te stel.
Die National Union of Public Service and Allied Workers (Nupsaw) in die Noord-Kaap het die stap verwelkom, maar meen dit is onregverdig teenoor sommige werkers.

Gesondheidswerkers betoog in Kimberley vir aanstellings. Skermgreep: SABC News
Die mediaskakelbeampte van die Noord-Kaapse departement van gesondheid, Mandisa Mereeotlhe, het aan SABC News gesê van die 852 gemeenskapsgesondheidswerkers is 429 reeds permanent aangestel.
“Nog 279 aanstellings word tans verwerk, en 144 werkers wag dat hul matrieksertifikate geverifieer word. Hierdie aanstellings is ’n prioriteit vir die departement om personeeltekorte, veral in landelike gebiede, aan te spreek.”
Die provinsiale tesourie het meer as R130 miljoen beskikbaar gestel vir die aanstelling van gemeenskapsgesondheidswerkers. Nupsaw sê egter die aantal aanstellings is onvoldoende.

Andrew Diraditsile van Nupsaw. Skermgreep: SABC News
Die vakbond meen die proses is onregverdig teenoor werkers wat al dekades lank sonder matrieksertifikate in die sektor werk. “Dit is ’n stap in die regte rigting,” sê Nupsaw se provinsiale organiseerder, Andrew Diraditsile.
“Maar dit is nie waarvoor ons geveg het nie. Ons eis was dat alle gesondheidswerkers, met of sonder matriek, aangestel moet word. Die huidige resolusie verdeel werkers.
“Die vakbond glo steeds die departement kan meer gemeenskapsgesondheidswerkers permanent aanstel.” Die departement sê die begrotingstoewysing het die werwingsproses in die provinsie versnel.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

