Central SA
Asiese man vas wat glo meisies in Bloem-winkelsentrums teiken─── 09:18 Mon, 12 Jan 2026
’n Asiese man verskyn weer Woensdag in die hof oor voorvalle waarin jong meisies glo in groot Bloemfonteinse winkelsentrums agtervolg en met ’n onwelriekende stof bespuit is.
Die man (33) is in hegtenis geneem deur die eenheid vir seksuele en elektroniese misdaad nadat materiaal waarin die seksuele misbruik van kinders uitgebeeld word, glo in sy besit gevind is. Hy het Vrydag vir die eerste keer voorgekom in die Bloemfonteinse landdroshof, sê lt. kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder.
Verskeie klagtes is deur ouers ingedien nadat ’n man in winkelsentrums agter jong meisies aangeloop, hulle met ’n onwelriekende stof bespuit en dan wegbeweeg het. Hy het blykbaar ook sy slagoffers in die geheim afgeneem.
Na wat verneem word, was sy oogmerk moontlik om die meisies, tussen die ouderdom van 10 en 12, siek te laat voel sodat hulle die kleedkamers sou besoek, waar op hulle toegeslaan kon word.

Foto ter illustrasie: Shutterstock
Die polisie het met sekerheidspersoneel van winkelsentrums saamgewerk om die verdagte op te spoor, sê Covane. Kapt. Bez Bezuidenhout van die eenheid vir seksuele en elektroniese misdaad het hom in hegtenis geneem en toe hy deursoek is, is ’n groot inspuiting, met ’n naald, wat normaalweg vir diere gebruik word, glo by hom gevind.
“Die polisie het leidrade opgevolg en ’n skokkende ontdekking gemaak in die woonstel waar die verdagte woon,” sê Covane. “’n Lewensgetroue sekspop en ’n skootrekenaar met ’n video wat wys hoe ’n kind seksuele dade met ’n volwasse man verrig, is daar aangetref.”
Die woonstel is tot misdaadtoneel verklaar en ander eenhede ontbied om dit te verwerk. Middels wat daar gevind is, is vir ontleding gestuur.
Bykomende aanklagte
’n Saakdossier vir die besit van materiaal wat die seksuele misbruik van kinders toon, is aangelê by die Parkweg-polisiekantoor. Bykomende aanklagte word ook ondersoek vir die besit van ’n gevaarlike wapen, aanranding met die doel om ernstig te beseer en ’n oortreding van die Immigrasiewet.
Die verdagte het Vrydag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn, waar die saak uitgestel is tot Woensdag. “Ouers wat vermoed hul kinders is moontlik deur iemand bespuit met ’n stof wat sleg ruik, word gevra om verklarings by die polisie af te lê.”
Bezuidenhout kan ook gebel word by 071 331 8822.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

