Central SA
Kuruman-boer-moord: Beskuldigdes dan weer in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Mon, 23 Feb 2026
Die vier mans wat beskukdig word van die moord op ’n Noord-Kaapse boer, sal na verwagting weer op 23 Februarie in die hof verskyn.
Oorbile Vincent Motsewakgosi (24), Kabelo Klaas Tata (28), Potso Bogodile (20) en Jan Tata (18) se borgtogaansoeke is op 23 Desember in die rondgaande hooggeregshof op Kathu van die hand gewys. Hendrik Venter, ’n veeboer van Kuruman, is in September 2024 op sy plaas vermoor.
Venter het na bewering omstreeks 08:30 Kameelaar, die plaas waar hy gewoon het, verlaat om een van sy ander plase te besoek. ’n Buurman het sy liggaam omstreeks 09:45 langs sy voertuig by die plaashek gevind.

Hendrik Venter is in September 2024 dood aangetref by die hek van sy plaas. Foto: Facebook
Die vier beskuldigdes staan tereg op aanklagte van voorbedagte moord en roof met verswarende omstandighede. Volgens die regsfirma Duvenage en Van der Merwe, wat die Venter-familie bystaan, was daar groot verligting ná die hof se besluit om borgtog te weier.
Die saak is meermale uitgestel nadat die beskuldigdes kans gegee is om regsverteenwoordiging van Regshulp SA te kry. Willie Aucamp, DA-LP, die Venter-familie se woordvoerder, sê die party sal alle hofverrigtinge bywoon om te verseker dat die regsproses behoorlik gevolg word.
Die beskuldigdes is aanvanklik vrygelaat, en die saak is op 30 April 2025 voorlopig van die rol geskrap weens ’n gebrekkige polisiedossier en swak ondersoekwerk.

Ná volgehoue druk van AfriForum en die DA is die verdagtes egter op 29 Julie 2025 opnuut in hegtenis geneem.
Die beskuldigdes bly in aanhouding en sal in die rondgaande hooggeregshof op Kathu verskyn, waar die saak waarskynlik na die hooggeregshof in Kimberley oorgeplaas sal word. ’n Datum vir die voorlopige verhoor sal na verwagting bepaal word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
