Central SA
Noord-Kaapse boer se vermeende moordenaars weer agter tralies─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:32 Fri, 01 Aug 2025

Die vier mans wat voorheen vrygelaat is weens ’n onvoldoende ondersoek na die moord op ’n Noord-Kaapse boer en wie se saak daarna van die hofrol geskrap is, is almal terug agter tralies.
Die vier beskuldigdes is Dinsdag (29/7) deur Kimberley se polisie in hegtenis geneem.
Orabile Vincent Motsewakgosi (24), Kabelo Klaas Tata (28), Potso Bogodile (20) en Jan Tata (18) het Woensdag (30/7) in Kuruman se landdroshof verskyn op aanklagte van voorbedagte moord (’n bylae 6-oortreding) en roof met verswarende omstandighede, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Die viertal word verbind met die moord op Hendrik Venter (81), ’n veeboer van Kuruman, wat in September op sy plaas vermoor is.
Venter het Kameelaar, die plaas waar hy gewoon het, daardie oggend omstreeks 08:30 verlaat om een van sy ander plase te besoek. Sy liggaam is omstreeks 09:45 langs sy voertuig by die hek van die eiendom deur ’n naburige boer ontdek.
Hendrik Venter. Foto: Verskaf
Volgens Senokoatsane is die saak uitgestel omdat Regshulp SA se regsverteenwoordiger hom aan die saak onttrek het. “Die beskuldigdes sal na verwagting Maandag (4/8) om borgtog aansoek doen.
“Sodra die borgtogaansoeke gefinaliseer is, sal die saak na die Kathu Rondgaande Hooggeregshof oorgeplaas word om hofverrigtinge meer toeganklik vir die gemeenskap te maak.”
Daar word verwag dat die staat die borgtogaansoeke sal teenstaan.
Willie Aucamp, DA-LP en nasionale woordvoerder, asook die Venter-familie se woordvoerder, sê die staat het nuwe en voldoende bewyse ingesamel sedert die saak op 30 April van die rol verwyder is, wat die verdagtes se herinhegtenisneming moontlik gemaak het. Forensiese bewyse het die verdagtes na bewering ook met die misdaad verbind.
LEES OOK: Noord-Kaapse hof versoek om plaasmoord wel te verhoor
“Die landdros het die saak oorspronklik van die rol verwyder weens vertragings in die ondersoek en gesê dat die stadige vordering nadelig vir die beskuldigdes was.”
Hy sê die NVG het gevolglik besluit om nie met vervolging voort te gaan nie, wat daartoe gelei het dat die aanklagte teen Motsewakgosi en Tata laat vaar is. Die aanklagte teen Bogodile en Jan is in Oktober verlede jaar teruggetrek, met die senior staatsaanklaer wat onvoldoende bewyse aangehaal het.
“Voortdurende druk van die DA sowel as die plaaslike gemeenskap het daartoe gelei dat die saak hersien en eindelik weer op die hofrol geplaas is.
“Ons is bly dat die speurafdeling by die Kimberley-polisiekantoor die ondersoek oorgeneem het. Danksy hul volgehoue pogings het ons nou nog ’n geleentheid om te verseker dat geregtigheid geskied.”
Plaasaanvalle uniek
Aucamp beklemtoon die onlangse verslag oor plaasaanvalle en landelike misdaad, wat vroeër vandeesmaand in die parlement ter tafel gelê is, sal toekomstige vervolgings in sake soos Venter se moord versterk.
“Na aanleiding van die toename in plaasaanvalle, plaasmoorde en veediefstal in Suid-Afrika, het die parlement in Julie vanjaar ’n verslag saamgestel en aangeneem wat die erns en brutaliteit van hierdie misdade erken. Die verslag het die unieke aard van plaasaanvalle en -moorde erken en verskeie aanbevelings gemaak om dit te bestry.
Volgens Aucamp was onder die belangrikste voorstelle die stigting van ’n gespesialiseerde landelike veiligheidseenheid binne die polisie.
Samewerking gee deurslag
“Nog ’n belangrike aanbeveling was om die koördinering tussen die NVG en die polisie te verbeter. Dit sou staatsaanklaers of staatsadvokate toelaat om van die begin van ’n ondersoek af betrokke te wees, wat sterker, meer gefokusde vervolgings verseker.”
Aucamp sê die samewerking tussen die ondersoekbeamptes en die staatsaanklaer wat die saak hanteer, was ’n deurslaggewende faktor. Dit het direk gelei tot die herinhegtenisneming van die vier beskuldigdes.
“Hierdie samewerking tussen die polisie en die NVG is ’n positiewe stap vorentoe en illustreer die potensiële doeltreffendheid van die aanbevelings wat in die parlementêre verslag uiteengesit word.”