On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bultfontein: plaasaanvalverdagtes vas

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:55 Tue, 20 Jan 2026

Bultfontein: plaasaanvalverdagtes vas | News Article
Twee vas ná Bultfontein-plaasaanval. Foto: Argrief

Twee verdagtes uit die Vrystaat sal na verwagting binnekort in die Bultfontein-landdroshof verskyn ná die aanval op en ontvoering van ’n bejaarde vroueboer.

Die verdagtes is Maandag (19/1) in hegtenis geneem. Een van hulle is vermoedelik ’n voormalige werknemer van die slagoffer en word as die hoofverdagte beskou.

Volgens sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, staar die mans aanklagte van roof in die gesig, met die moontlikheid dat verdere aanklagte bygevoeg word soos die ondersoek vorder.

Dr. Jane Buys, die organisasie VL se veiligheidsrisikoanalis. Foto: Facebook

Vrystaat Landbou (VL) het die aanval op die 72-jarige vrou ten sterkste veroordeel. “Die lewe, waardigheid en veiligheid van boere is ononderhandelbaar,” sê dr. Jane Buys, die organisasie se veiligheidsrisikoanalis.

Toegesluit in kattebak

Die slagoffer is glo met ’n tuinskoffel aangerand deur die voormalige werknemer. Sy het haar bewussyn verloor en is daarna in die kattebak van haar eie voertuig gelaai en weggery.

Toe die voertuig naby Soutpan onklaar raak, het die verdagte dit langs die pad gelos – met die vrou steeds in die kattebak. Sy was amper 24 uur lank in versengende hitte vasgekeer totdat sy Saterdagmiddag ontdek is.

Volgens Kareli het ’n waaksame polisieman die voertuig aanvanklik opgemerk. Toe hy later weer verbyry en sien die voertuig staan steeds daar, het hy ondersoek gaan instel. 

LEES OOK: Vrystaat Landbou veroordeel nog twee plaasaanvalle

Hy het die bewustelose vrou in die kattebak aangetref en onmiddellik hulp ontbied. Sy is na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir dringende mediese sorg, maar is intussen ontslaan en herstel tuis.

’n Deeglike ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van twee mans. “Die voormalige werknemer is vasgetrek, en ’n tweede verdagte is kort daarna gearresteer nadat hy in besit van die slagoffer se besittings gevind is,” sê Kareli.

Die ondersoek duur voort, en verdere aanklagte word nie uitgesluit nie.

Aanval in Clocolan

In ’n afsonderlike voorval is Frieder Zerwick (56) van Clocolan Sondag (18/1) omstreeks 18:00 by sy plaashuis deur drie aanvallers oorval.

Volgens VL het een aanvaller glo probeer om hom te skiet, maar is deur ’n medepligtige gekeer. Zerwick is toe herhaaldelik met messe gesteek. Die aanvallers het met kontant en vuurwapens van die toneel gevlug.

Ten spyte van sy beserings het Zerwick homself bevry en hulp by werkers gaan soek. Hulle het daarin geslaag om hulp te ontbied.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.